STILBAAI NUUS - Anastasia de Vries van die Universiteit Wes-Kaap het op Saterdag 17 September 'n werksessie vir die Stilbaai-skryfkring aangebied oor maniere om beter rubrieke en kortverhale te skryf.
De Vries is 'n dosent in Afrikaans en Nederlands vir die taalprofessies - joernalistiek, kreatiewe skryfwerk en dokument-ontwerp - sedert Januarie 2013 en verder is sy ook 'n rubriekskrywer.
Sy het haar doktorsgraad in Nederlandse taal- en letterkunde in 1992 by die Vrije Universiteit in Amsterdam behaal.
Volgens Hella Döckel, voorsitter van die skryfkring, het Rita Louw in die tagtigerjare die skryfkring gestig met die doel om aspirantskrywers die geleentheid te gee om hulle skryfkuns te verbeter.
Hulle het dus al van daardie jare af ervare mense soos De Vries gekry om slypskole in Stilbaai aan te bied.
Döckel sê aspirantskrywers het nodig dat iemand anders jou skryfwerk lees en dan vir jou terugvoer gee oor waar jy kan verbeter. Sy sê dat 19 mense ingeskryf het vir die werksessie en die Skryfkring het drie graad 12-leerders dit gratis laat bywoon.
De Vries het aan die aanwesiges vertel dat skryf begin as jy iets neerskryf. "Wat skryf jy? Hoekom skryf jy dit en vir wie skryf jy?" Sy sê ook dat jy moet skop gee aan skryf, spanning skep en jy moet die storie laat vloei.
Hierdie is maar enkele gedagtes van wat sy gedeel het. Belangstellendes kan gerus vir Döckel bel by 028 754 3998.
Die skryfkring kom maandeliks op die laaste Donderdag om 14:00 in die Jagersbosch-gemeenskapsorgsentrum se waenhuis byeen.
Van links: Naas Scholtz, De Vries, Bea Badenhorst en Chenné Loots.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'