Update
RIVERSDAL NUUS - Die dood van Johanna Stegmann (gebore Scholtz), oud-onderwyseres verbonde aan Laerskool Volschenk laat 'n groot leemte in die gemeenskap.
Dié beminde vrou met haar sprankelende persoonlikheid is skielik oorlede.
Johanna is op 24 Desember 1955 in George gebore.
As enigste kind van haar ouers, Hendrik en Marthina Scholtz word sy in Blanco groot waar beide haar ouers in die onderwys betrokke was.
Sy voltooi haar hoërskoolloopbaan by Hoërskool Outeniqua in George en bekwaam haar daarna as laerskoolonderwyseres by die Onderwyskollege op Wellington.
In 1977 aanvaar sy die pos as gr. 1-onderwyser by Laerskool Volschenk.
Sy trou op 22 Desember 1979 met Danie Stegmann en word boervrou na vyf jaar in die onderwys.
As knap boervrou was sy 'n baasbakster en tuisteskepper by uitstek.
Uit die huwelik is twee kinders gebore, Jan-Cor en Madri.
Johanna het gasvryheid betoon teenoor almal wat die historiese plaas se drumpel betree het en kon saamgesels oor enige onderwerp, met 'n liefde vir geskiedenis.
Sy was baie lief vir haar man, kinders, skoonseun Dawie en twee kleinkinders, Joa en Nia.
Sy het aan verskeie verenigings behoort en die Vetterivierwyk het haar na aan die hart gelê.
Boeke, musiek, lees, haar familie, vriende en leeskringvriende was 'n prioriteit in haar lewe.
"Ons eer haar nagedagtenis en koester al die mooi dinge wat sy vir ons nalaat. Nogmaals baie dankie aan familie, vriende en die gemeenskap wat ons so wonderlik ondersteun het met haar onverwagse afsterwe.
"Ons voel nederig en klein voor ons Hemelse Vader met die aanskoue daarvan," sê Danie.
Die dankseggingsdiens vir dié besondere mense-mens het Donderdag 5 Desember plaasgevind met die teraardebestelling in die familiebegraafplaas op Holbak.
ARTIKEL: KEITH EKSTEEN, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'