STILBAAI NUUS - Uitstaande besigheidslui in Stilbaai sal tydens ’n gala-aand op 17 Mei vir die tweede agtereenvolgende jaar erkenning kry vir hulle bydraes tot die gemeenskap en ekonomie.
Rean Pretorius, voorsitter van Stilbaai Sakekamer is opgewonde oor hierdie jaar se toekennings.
Volgens hom is die proses heelwat verfyn en beoordeling word in ses kategorieë gedoen: Liefdadigheidsorganisasies, dienste-ondernemings, gesondheid/skoonheid, kleinhandel, voedsel/drank/reis/toerisme/verblyf/vermaaklikheid en laastens vervaardiging/konstruksie/ boudienste.
Binne elke groepering word ook ’n onderskeid tussen klein en groot besighede getref.
Die stemproses om die finaliste te bepaal het op 11 April begin en word hierdie jaar elektronies gedoen. Daar word reeds ywerig gestem, te oordeel aan die 470 stemme wat binne die eerste twee dae ontvang is.
Die wenners sal tydens die gala-aand in die gemeenskapsaal aangekondig word. Die tema vir die aand is ‘Die Oscars in swart en wit’. Die gasspreker is prof. Jannie Rossouw, hoof van die Skool vir Ekonomie en Besigheidswetenskappe aan die Universiteit van die Witwatersrand.
Die skakel om vir jou keuse te stem is op verskeie Facebook-groepe, waaronder Stilbaai Sakekamer, Stilbaai, Bay of the Sleeping Beauty en Hessequa, Dal van die Slapende Skoonheid.
Een stem per e-posadres word toegelaat. Stemme sluit op 24 April om 17:00.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'