RIVERSDAL NUUS - 'n Lekker koppie sop teen die wind en naderende koue front het op Donderdag 18 Julie menige kindermagies gevul.
"Ons het ter viering van Mandeladag sop aan minderbevoorregte kinders uitgedeel," het Marilyn Constable, registrasieklerk by Riversdal-polisie gesê terwyl sy vlytig sop inskep. "Ons het 'n genoegsame aantal kinders bereik."
Leerders van Panorama Primêr oorkant die straat het skaam-skaam kom toustaan vir 'n beker sop en 'n broodjie.
Polisiepersoneel het onder leiding van Constable die sop gekook en by die polisiekantoor se hoofingang uitgedeel. "Almal het saamgewerk en ons het genoeg vir 150 koppies gemaak."
Die sop was 13:30 gereed en 'n halfuur later was die laaste beker uitgedeel.
"Die sopbestanddele is geborg en die lede het ook bymekaar gegooi," het konst. Venia Daries, skakelpersoon gesê.
Buiten die kinders, het 'n paar volwassenes, soos Sameul Keller van Riverville, ook nadergestaan.
Sameul Keller, ’n bejaarde van Riverville, het ook nadergestaan vir ’n koppie sop. Op die trap is lede wat handjie bygesit het om die groot pot sop te kook.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'