RIVERSDAL NUUS - Plaaslike polisielede het in samewerking met Riversdal-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en Rural Safety, op Woensdag 28 November Kersgeskenke by Small Dreams-dagsorgsentrum gaan afgee.
Die doel van hulle besoek was nie net om die leerders te vermaak nie, maar ook vir die 16 dae van aktivisme-veldtog. Elke leerder het 'n boekie ontvang waarop inligting van kinderregte is. Dit is ook deur ao. Yolanda Prinsloo aan hulle verduidelik.
Kersvader het self 'n draai kom maak en heerlike kolwyntjies uitgedeel.
Dié sentrum is 'n nie-winsgewende dagsorgsentrum vir kinders met spesiale behoeftes. Hulle het ook hul eerste verjaarsdag op 22 November gevier.
Tammy Kleynhans, onderwyser en bestuurder van die sentrum het gesê 'n paar van die behoeftes waarmee hulle werk is outisme, downsindroom en ADHD.
Sers. Adri Saayman, Prinsloo en Marilyn Constable, hoof administrasieklerk het vir elke leerder 'n pakkie met eetgoed, lekkers en 'n spesiale geskenkie uitgedeel. Elke leerder se geskenk is vir hul spesifieke behoeftes uitgesoek.
Die GPF en Phillip Wilken van Rural Safety het gehelp om dit moontlik te maak. Leerders was in ekstase en kon nie ophou glimlag terwyl hulle met verwondering na polisielede en Kersvader gekyk het.
Voor is Adri Saayman saam met Brayden Mienie, Jaylin Warniek en Yolanda Prinsloo. Agter is Tammy Kleynhans, Marilyn Constable, Jamie Blignaut en Theresa Charles saam met Philwan Pretorius.
Jamie Blignaut was in ekstase oor haar geskenk. Foto's: San-Marié Cronjé
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'