Tien persone het die vergadering bygewoon, terwyl minstens nog 10 verskoning gemaak het maar aangedui dat hulle wel so 'n klub sou ondersteun.
Tydens die vergadering is daar besluit om wel met die stigting van 'n fotografieklub voort te gaan en hierdie stigtingsvergadering sal dan op Donderdag, 6 Desember om 19:00 by Bauhiniastraat 33 plaasvind.
Tydens hierdie vergadering sal beplanning gedoen en die prosedure vir volgende jaar se aktiwiteite bespreek word. Die klub sal funksioneer onder die vaandel van die fotografiese vereniging van Suid-Afrika (PSSA), wat reeds hul goedkeuring, hulp en ondersteuning aangebied het.
Almal wat 'n belangstelling in fotografie het (met of sonder 'n kamera) en wat graag meer wil leer, of hul kennis wil deel, word uitgenooi om by die klub aan te sluit en so betrokke te raak by die opwindende proses van 'hoe om met lig te verf'. Maandelikse vergaderings sal gehou word waartydens lede se foto's bespreek, beoordeel en gradeer sal word.
Tydens elke vergadering sal daar ook 'n praatjie gelewer word waar basiese, asook gevorderde beginsels van fotografie met lede behandel sal word. Uitstappies en ander fotografiese geleenthede sal op 'n gereelde basis plaasvind, waartydens tegnieke ingeoefen en resultate verkry bespreek word.
Almal is welkom. Skakel net vooraf vir Grove Koch by 083 557 2131 of 028 713 3193 sodat die nodige reëlings vir verversings en sitplek getref kan word.

Hierdie voornemende fotografielede het die vergadering bygewoon waar die stigting van so 'n klub bespreek was.