STILBAAI NUUS - As jy hawe toe ry kan jy nie die groot houtstruktuur miskyk wat by Pikkewouter-kleuterskool opskiet nie.
Soos Laerskool Bertie Barnard is Pikkewouter ook besig om uit sy nate te bars as gevolg van die geweldige toestroming van jongmense na hierdie pragtige kusdorpie.
Covid het gewys dat mens van die huis af kan werk en Stilbaai is ook 'n baie veilige dorp waar kinders nog kinders kan wees.
Die beheerliggaam het besluit om die kleuterskool uit te brei om voorsiening te maak vir die al groterwordende vraag en daarom word hierdie ekstra klaskamer gebou.
Pikkewouter het tans 68 kinders van twee jaar tot graad RR en die skoolhoof, Suanie Oberholzer, spog met 11 personeellede, almal toepaslik gekwalifiseer. Die graad RR-opvoeder is gekwalifiseer vir die grondslagfase en die res het almal vroeë kinderontwikkelingskwalifikasies.
Die nuwe klaskamer sal die kleuterskool in staat stel om baba's van ses maande en ouer, waarvoor daar 'n groot vraag is, in te neem en dit sal ook die druk afhaal van spasie vir die graad RR-akkommodasie.
Toe Dawn van Zyl hierdie skooltjie ongeveer 35 jaar gelede op dieselfde perseel begin het met een geboutjie, het sy seker nie in haar wildste drome gedink dat dit so sou uitbrei nie. Hierdie was mos maar vir jare 'n aftree- en vakansiedorpie, maar die laaste paar jaar het almal onkant gevang.
Suanie sê hulle beplan om die nuwe klaskamer in die derde kwartaal operasioneel te hê en dat hulle dan van die vierde kwartaal af baba's sal inneem.
Sy sê as dit nie was vir die versiendheid van die beheerliggaam en hulle geloof in die projek nie sou daar niks gebeur het nie. Die kleuterskool kry geen staatsubsidie nie en hulle kan dus net staatmaak op skoolgeld en fondsinsamelings om die skool te bedryf.
Die skoolgeld kan glad nie gebruik word vir die bouprojek nie en hulle het dus 'n boufonds begin om met fondsinsamelings en donasies die ekstra klaskamer te kan bou. Tot op hede is alreeds R260 000 spandeer, maar dit sal ongeveer R450 000 kos as dit voltooi is.
Suanie en die beheerliggaam wil net baie dankie sê vir die ondersteuning uit die gemeenskap tot dusver, maar as enigiemand kans sien om by te dra tot die boufonds of om materiaal te skenk kan hulle gerus vir Suanie skakel by 072 717 8306 of vir Herman de Jager by 072 510 7452.
Pikkewouter ongeveer 35 jaar gelede.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’