HEIDELBERG NUUS - Ongeveer 90 boervrouens is Vrydag 22 September vir 'n goedvoel oggendtee met die tema 'Die pêrel agter die boer', by die skouterrein genooi om hulle te bederf vir die waarde wat hulle tot boerdery toevoeg.
Die dag is deur SSK geborg en volgens een van die organiseerders, Tronel Oosthuizen, was dit 'n fees van 'n tyd om saam met haar kollegas die funksie te reël.
"Lang ure en baie verskille, maar dit was 'n groot sukses met die strome oproepe en dankies wat ons Vrydag tot laatmiddag ontvang het."
Die tema se konsep is mooi op kleurvolle plekmatjies uiteengesit, waarop die volgende gestaan het:
"Pêrels vorm wanneer 'n sandkorrel of growwe stukkie klip die oester se skulp binnedring en die oester dan 'n pêrel daarom vorm om gemakliker daarmee saam te leef. So is die vrou agter elke boer ook vir hom 'n pêrel.
"Sy is die standvastige en mooi wat na elke harde dag op die plaas daar vir hom is.
"Sy is die een wat hul huishouding aan die gang hou en hom help staande bly en bemoedig deur moeilike tye van te min reën en siektes onder die vee.
"Dus is 'n boer se vrou die pêrel wat enige ongemak binne sy dop versag, sy tuiste en lewe net soveel mooier en meer waardevol maak."
Seremoniemeester Annelie van Wyk het vrouens aangemoedig om vir hulself lekker gevoelens te skeduleer.
"Koop die skoene, drink die glasie wyn en bestel die poeding. Ek het vandag rooi skoene by my rok aangetrek. Al pas dit nie, laat dit my lekker voel - ek het dit vir myself geskeduleer."
Die ys is behoorlik gebreek toe daar versoek is dat die eerste vrou wat opspring en dans op die liedjie wat speel, 'n prys gaan wen.
Christa Rall het nie op haar laat wag nie en dadelik die gaste laat skaterlag vir haar waagmoed.
Nadat die dames die heerlike eet- en drinkgoed kon geniet en geselsies opvang met 'n buurvrou of twee, het die bekende motiveringspreker, Lindie Strydom, hulle verder geïnspireer met haar woorde: "If you can laugh together, you can work together".
Sy het dit ook beklemtoon dat tyd baie belangrik is. "Tyd is geleende tyd, want jy is vir 'n rede waar jy is. Gebruik tyd reg; kwaliteit en kwantiteit elke oomblik."
Een van die gaste, Maritza Malherbe het die oggend ook baie geniet. "So 'n bederf is lekker vir 'n vrou, dan voel ons ook darem na iets."
Lees 'n vorige artikel: 'n Pêrel agter die boer
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'