HESSEQUA NUUS - Die ANC Hessequa-koukus het hulself verskoon en gedistansieer van sekere van die agendapunte tydens die raadsvergadering op Woensdag 27 September.
In 'n persverklaring, uitgereik deur Elias Dyamani, ANC Hessequa-sweep, was daar spesifiek vyf punte op die agenda wat ernstige en duur finansiële implikasies vir inwoners en die munisipaliteit inhou.
Hy het dit duidelik gestel dat sommige van die items wel voor die portefeuljekomitees en uitvoerende burgemeesters komitee (UBK) gedien het, maar dat dit nou by die raad verskil.
"Die vyf minute spreekbeurt oor elke item, volgens die raad se ordereëls is nie voldoende nie."
Die ANC se versoek was dat hierdie items terugverwys word na 'n werksessie of gesamentlike koukus, wat deur die speaker geweier is.
Probleemareas
• Punt 9.9 - Skepping van poste: "Poste is geskep wat 'n massiewe finansiële impak vir die inwoners gaan hê, soos byvoorbeeld die sekretaris in die munisipale bestuurder se kantoor is nou 'n uitvoerende sekretaris.
Die duur personeel in die burgemeester se kantoor. Is dit nodig?
Hoeveel kos sodanige poste en wat is die pligtestaat daarvan?"
Dyamani noem dat beloftes tydens die begrotingswerksessie gemaak is dat alle poste gestaak en nie gevul sal word nie, maar nou vind die teendeel plaas.
• 9.10 - Verkoop van grond: Twee waardasies moet aan die raad voorgelê word alvorens grond verkoop word. "Dinsdag laat is 'n tweede waardasie per e-pos aan raadslede gestuur, nadat die agenda slegs een waardasie bevat het. As ANC-koukus kan ons dus nie 'n ingeligte besluit maak op inligting wat op die vooraand aan ons gestuur word nie."
• 9.11 - Munisipale bestuurder - toevallige afwesigheid: Die voorstel dat die CFO in die munisipale bestuurder se plek waarneem is volgens die ANC in konflik met regsmenings.
• 9.12 - Terugbetalings: Die munisipaliteit moet nagenoeg R63,6 miljoen terugbetaal omdat die raad sedert 2015 nie hul pligte nagekom het nie om die geld te spandeer.
• 9.13 - Aansuiweringsbegroting: Die raad wil hê ons moet eers besluit en dan werksessies hou terwyl dit in Februarie moet plaasvind.
"Ons verwerp die besluite en aanbevelings met die grootste minagting wat dit verdien. Die DA-koalisie moet 'n slag eerlik met ons inwoners wees.
Sekere inligting word van die publiek weerhou omdat sekere besluite toegesmeer word."
Kommentaar deur Johan Jacobs, munisipale bestuurder (verkort):
Die vergadering is deur die Speaker, Andrew Stroebel as gekonstitueer verklaar. Die vergadering het voortgegaan aangesien daar wel 'n kworum was.
Al vyf van die bogenoemde items is hanteer waarvan slegs een item terugverwys is:
• 9.9 - Dit is 'n wetlike vereiste dat die raad die diensstaat jaarliks hersien en dit hou geen finansiële implikasie vir die raad in nie;
• 9.10 - 'n Tweede waardasie vir die aansoek om gedeelte van erf 1549, Stilbaai-Wes te koop is ontvang nadat die item reeds opgestel en in die agenda vervat is. Dit is op 26 September laatmiddag aan die raadslede versprei;
• 9.11 - Die item is terugverwys vir verdere ondersoek.
• 9.12 - Die munisipaliteit is tans in 'n inter-regeringsdispuut met nasionale tesourie gewikkel ten opsigte van rampfondse teen 'n bedrag van R30 miljoen. Samesprekings vind op 2 Oktober plaas;
9.13 - Met die afsluiting van die 2016/17 finansiële jaar was daar sekere projekte waar tenders reeds toegeken is, wat nie voltooi kon word nie om verskeie redes, of projekte wat nie betyds voltooi is nie.
Met die beperkte tyd wat vir implementering beskikbaar was en waar alle posnommers verander moes word, en alle posnommers nie betyds geskep kon word nie, is die begroting gesamentlik op bestaande posnommers geplaas.
Lees 'n vorige artikel: ANC koukus verlaat raadsvergardering
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'