Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Jakkie van der Colff het Donderdag 12 September by die Meurant Voortrekkerlaer besoek afgelê.
Die 77-jarige fietsryer het op 17 Augustus by die Voortrekkermonument in Pretoria weggespring en beoog om op 21 September by die Taalmonument in die Paarl aan te kom - 'n hele 2 700 km van die vertrekpunt af.
Die doel van die tog is om die Voortrekkerbeweging bekend te stel en te bemark.
Dit doen hy met die samewerking van Kuifie, 'n anonieme persoon in 'n kostuum wat die beweging se gelukbringer is.
By Meurant-laer langs die Vetterivier is Oom Jakkie, soos hy bekendstaan, deur junior en senior lede en 'n klompie ouers en offisiere verwelkom. Voortrekkers Lisa Louw het hom met prosa en Leonel Scholtz met 'n lied geëer, voor Maggie en Wim Filmalter hom op boeremusiek trakteer het.
Van der Colff het vertel dat hy sedert 2008 aan ernstige depressie gely het en uiteindelik in 2012 besluit het om te begin fietsry om die 'swart hond' af te skud. Hy het besef dat sy geestesgesteldheid verband hou met sy fisieke gesondheid en het homself uitgedaag om sekere doelwitte met fietsry te behaal. Sedertdien het hy al verskeie langafstande op sy eie aangepak. "Ek ry alleen - net ek en my fiets en my gedagtes..."
Kyk 'n video hieronder:
Die verste wat hy nog gery het was 'n tog van 5 600 km rondom die land, waartydens hy die welwillendheid van Suid-Afrikaners ervaar het. Hy was van plan om saans in 'n tent in sy slaapsak te slaap, maar dit het nooit gebeur nie. "Ek het 69 aande op uitnodiging van mense langs die roete by hulle aan huis oorgebly. Een dag het 'n vragmotorbestuurder met die naam Johannes by my stilgehou en my gevra of ek iets nodig het. Hy het gesê hy het lemoene en kos by hom. By nog 'n geleentheid toe ek baie moeg was, het drie dogtertjies my gehelp om my fiets te stoot. Ons land se mense is pragtig."
Wonderwerke langs die pad was volop. "Ek het nog nooit 'n pap wiel of enige ander skade gehad nie en ek het nog nooit gevoel dat ek in gevaar is nie. Dit is 'n wonderwerk dat ek soveel kilometer alleen kon ry en niks oorkom nie. Daar is Iemand wat wag hou oor jou. My seuns wil weet waar ry Pa nou en waar slaap Pa vanaand, terwyl my vrou op haar knieë bly."
Terwyl die kleingoed worsbroodjies en sap geniet het, kon hulle hom verder uitvra oor sy lewe en sy fietsry-avonture.
Lees 'n vorige artikel hier: Bejaarde trap fiets vir Voortrekkers
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'