Op 31 Maart 1979 is die tronk amptelik gesluit en is dit per tender verkoop. Gedurende 1984 is dit in Louise Malherbe se pa, Mattheus Koen se naam geregistreer, waarna dit hoofsaaklik as stoorplek gebruik was.
Sedert Februarie 2009 het dit 'n groot gedaanteverwisseling ondergaan en word dit onder die vaardige hand van Louise as 'n koffiewinkel bedryf. Weg is die dae van ryswater of droë brood vir gevangenes, want hier word die heerlikse ontbyte, wortelkoek, kaaskoek en ander eetgoed vir die gaste bedien! Koue, nat selle is omskep in winkeltjies waar 'n verskeidenheid van die mooiste kunswerke, handwerk en geskenke gekoop kan word.
Die geskiedenis van hierdie gedenkwaardige gebou, wat seker een van die oudste geskiedkundige plekke in die dorp is, sal hier altyd behoue bly. Die oorspronklike gedeelte, wat in 1838 deur die Barrys van Swellendam gebou is, was sekerlik nooit bedoel om 'n tronk te wees nie en was as 'n handelsstoor gebruik.
Bietjie meer as twee dekades later, in 1860 koop die staat die perseel en word dit in hoofsaaklik 'n tronk omskep, maar gedurende hierdie tyd word dit ook as 'n polisiekantoor en hofsaal gebruik en het die tronkbewaarder ook hier gebly. In 1899 word Gilbert Hay van Heidelberg in die tronk tereggestel; die enigste teregstelling wat ooit hier plaasgevind het. Hay, wat sy ma met 'n hamer vir drankgeld vermoor het, is ter dood veroordeel.
Die galg moes van Swellendam, wat in dié stadium die hooflanddrosdistrik was, op 'n ossewa aangery, opgeslaan vir gebruik en weer terug vervoer word. Vandag spog die tronk met die lekkerste atmosfeer, 'n pragtige tuin met sy avobome en ander plante en die gebou self is pragtig gerestoureer. Dit is die ideale plek vir daardie spesiale verjaarsdag, funksie of troue en selfs toergroepe, oorsee sowel as plaaslik saal gereeld hier af. Louise en haar span nooi almal uit om self die ontspannende atmosfeer te kom beleef, lafenis vir die siel te kry en die innerlike met hul heerlike eet- en drinkgoed te verfris.
* Die Ou Tronk is Maandae tot Vrydae vanaf 08:00 tot 16:30 oop en Saterdae met markte vanaf 09:00 tot 13:00. Vir meer inligting of besprekings, skakel 028 713 4300 of 084 777 7276.

Die vriendelike kombuispersoneel van die Ou Tronk is van links agter Susan Davids en Maggi Saayman. Voor sit Melanie Willemse.