HESSEQUA NUUS - 'n Heelwat stiller Januarie-feestyd is op hande, met 'n groot deel van binnelandse vakansiegangers wat Sondag, 10 Januarie huiswaarts gekeer het.
Didi Budricks, woordvoerder vir die Hessequa-munisipaliteit se gevoel is dat toerisme waarskynlik ook in Maart en April sal afneem, sowel as in die vakansietye in Junie, Julie, September en Oktober.
"Ons gaan die impak van die inperkings vir nog minstens die volgende 18 maande ervaar," sê sy.
Volgens Budricks het die jongste vlak 3-inperkingregulasies 'n beduidende impak op die toerismesektor van Hessequa en op die sektor as geheel. "Toerisme is geïdentifiseer as een van die dryfkragte vir ekonomiese groei. Met die verbod op betreding van strande, riviere, damme, asook byeenkomste en die verbod op alkoholverkope, saam met die strenger aandklokreël, trek die oorhoofse meerderheid van Hessequa se toerisme- en ondersteunende besighede aan die kortste ent." Budricks sê tot en met Woensdag, 6 Januarie het die privaatsektor verskeie kansellasies aangemeld, hoofsaaklik vanuit Stilbaai (12), Gouritsmond (4) en Witsand (9). "Dit is belangrik om daarop te let dat die meeste van hierdie kansellasies weer vinnig gevul is."
Sy sê Riversdal (2), Albertinia (4) en Heidelberg (2) het baie min kansellasies gehad en was dit duidelik dat die regulasies strandbestemmings harder slaan.
"Ons binnelandse dorpe was ook aansienlik stiller met die verbod op drankverkope en die beperking op handelsure van restaurante. Ons wynkelders word ook erg benadeel aangesien geen wynproesessies toegelaat word nie. Wynproe was nog altyd 'n hoogtepunt vir reisigers en onder die huidige regulasies verloor Hessequa hierdie inkomste."
Budricks sê vir die toerismesektor om te herstel, moet daar nou gefokus word om toeriste se vertroue te herstel, die regte veiligheidsinligting te versprei, ondersteuning te bied aan toerismebesighede sodat hul kan aanpas by die nuwe normal en lokale toerisme te bevorder.
Sy versoek elke inwoner om as ambassadeur op te tree deur dorpe en die streek te bemark en die inperkingsreëls te gehoorsaam.
Een van die veldogte wat deur die munisipaliteit se toerismedepartement aangespreek word, sluit in 'n sosialemediaveldtog om Hessequa as voorkeurbestemming te bemark vir die periode Januarie tot April en daarna weer Mei tot Desember.
Promosiefilms van die dorpe Gouritsmond, Albertinia, Riversdal, Stilbaai, Heidelberg en Witsand, asook 'n Hessequa-afslagboek vir besienswaardighede en plekke, maak ook deel uit van die bemarkingsplan.
Die departement is verder besig om die laaste eksemplare van Hessequa-toerisme te versprei na buitedorpe soos Swellendam, Stellenbosch, Tulbagh, Oudtshoorn en George.
Deur die dag het mense dikwels tou gestaan voor restaurante en kampeerders het hul staanplekke optimaal benut om die beste van die feestyd te maak met die geruis van die see in die agtergrond. Foto’s: Christo Vermaak
Feesgangers het vlak 3-inperkingsregulasies ten opsigte van strande en oorde oor die algemeen eerbiedig. Foto’s: Christo Vermaak
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'