RIVERSDAL NUUS - Cheryl Johnson vertel verslae hoe sy Sondag 4 Maart van haar kind, Olivia Johnson (19) moes afskeid neem.
Volgens Cheryl was Olivia Donderdagaand 1 Maart saam met vriende uit. Die ongeluk het Vrydagoggend 2 Maart ongeveer 05:00 gebeur.
Omdat sy nie by die werk opgedaag het nie, het een van haar kollegas, Hildene du Preez, haar gebel en boodskappe gestuur.
Toe sy geen antwoord kry nie, het sy onraad vermoed.
"My kind het nie huis toe gekom die aand nadat sy saam met vriende uit was nie.
Die oggend so teen 06:30 het een van haar vriende hier aangekom. Sy sê toe 'antie se kind, antie se kind' en sy begin huil. Ek sê vir haar, Laurika, wat is dit?
Praat Laurika, praat. Ek het toe geweet my kind makeer iets. Sy het my vertel dat Olivia in 'n ongeluk was en ons moet Riversdal-hospitaal toe gaan.
Toe ek daar aankom was hulle besig om vir haar suurstof te gee. Die ambulans het haar later George toe geneem."
Volgens Riversdal-polisie het hulle om 05:10 op 'n klagte van 'n motorongeluk op die Vermaaklikheidpad naby die waterwerke-afrit te Kwanokuthula gereageer.
Op die toneel was 'n wit bakkie. Twee mans, onderskeidelik 22 en 27 jaar en 'n vrou het buite die voertuig gelê.
Cheryl Johnson wys 'n foto van Olivia Johnson (19), haar dogter wat Sondag 4 Maart in 'n motorongeluk dood is. Foto: San-Marié Cronjé
Al drie was ernstig beseer. Hulle is na die plaaslike hospitaal geneem en is later na George oorgeplaas.
Cheryl vertel: "Ek moes Sondagoggend sorg dat ek in George kom. Dit was vir my verskriklik om my kind so te sien.
"Daar het ek by die Here gepleit om weer my kind se asem terug te gee. Sy was my staatmaker, ons broodwinner.
"Almal was mal oor haar en het respek vir haar gehad. Die trane kom sommer net. Wanneer ek my oë toemaak sien ek haar gesig voor my."
Olivia is Sondag 4 Maart dood. Haar ma het teen druktyd nog nie geweet wanneer haar roudiens sal wees nie.
'n Saak van strafbare manslag word deur Riversdal-speurdiens ondersoek.
Enigiemand met inligting kan hulle skakel by 028 713 8500.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'