Update Video
STILBAAI NUUS EN VIDEO - Hy was nog altyd lief vir stad en redelik fiks, maar met die inperking vanjaar het Johan Strauss van Stilbaai dié aktiwiteit baie ernstiger begin opneem.
Strauss kom van die eertydse Suidwes (nou Namibië) waar hy hoof van binnelandse sake (interstaatlike betrekkinge) was. Na onafhanklikheidswording het hy pakket gekry en het hy en sy vrou, Hetta na Pretoria getrek. ‘n Motorkaping het hom laat besluit dat dit tyd was om daar weg te kom.
"Ek was die oggend vroeg na Johannesburg op pad toe dit gebeur. Ek het vir die man gesê 'take the car', maar hy het gesê ek ry saam. Ek het na die passasiersitplek oorgeskuif en ek vang toe ‘n tweede ou so uit die hoek van my oog wat aangestap kom. Toe hy die deur oopmaak, skop ek hom. Hy val toe na die eenkant en ek spring, sommer so hoog in die lug. Drie skote het geklap en as ek nie so gespring het nie, sou dit my getref het."
Hy en Hetta het vir 'n vakansie na Stilbaai gekom en die winde het vreeslik gewaai. "Ek het nie van die weerstoestande gehou nie, want die wind het gewaai en dit was baie onplesierig, Maar juis in dié tyd word ons huis, wat in die mark was, verkoop en ons hoor van ‘n huis wat hier te koop is. Dit het my twee jaar gevat om die weer gewoond te raak, maar nou is ons al 20 jaar baie gelukkig hier."
Strauss vertel dat hy maar altyd gestap en gholf gespeel het. "Ek was tot ‘n mate aktief, maar mens skaal af en toe ons op Stilbaai kom, het ek miskien so eenkeer, soms twee keer per week gestap.
Wat dit regtig aan die gang gesit het, was die inperking met Covid-19 en het hy om die huis begin stap. “My buurman vra my eendag: 'Wat maak jy? Toe sê ek dat ek die klippe om my huis tel!" vertel hy laggend.
Uiteindelik kon stappers weer stap en drawwers weer draf, al was dit met ‘n masker en nie in groepe nie, maar dit hom gepas, want hy hou daarvan om op sy eie te stap. "Die gemiddelde mens in ‘n werksituasie stap so 4 000 tot 4 500 treë per dag. Maar as jy begin stap en dit word so 8 000, 10 000 of 15 000 tree per dag word dit ‘n heeltemal ander milieu in jou lewe."
Hy stap soggens baie vroeg, dan doen hy ‘n kort sessie in die voormiddag en laatmiddag weer ‘n lang sessie. Sy vasgestelde afstand is so 15km per dag. "So af en toe kry ek ‘n gier dan stap ek sommer so 30km, dis dubbel wat ek normaalweg stap. Maar dan moet jy stap, jy moenie stilstaan nie. Dit gee ‘n mens 'n einddoel om te sien wat jy kan doen."
Kyk 'n video hieronder:
Strauss sê dat hy geen spesifieke roete het nie. Hy warm gewoonlik by die wandelroete in Stilbaai-Wes by Waterkantstraat vir ongeveer 5 km op. "In hierdie stadium, of dit nou opdraande of afdraande is, raak ek glad nie moeg nie. My spiere word nie meer seer nie, enigste is my voetsole begin brand."
Volgens hom moet mens nie ‘n dag oorslaan nie, selfs wanneer jy op ander dorpe is. "Dit help nie mens slaan ‘n dag oor nie. Iewers moet jy dit weer inhaal," is sy raad. "Ek het nog nie ‘n dag in die laaste 14 maande gemis nie, winter of somer, maak nie saak hoe die weer lyk nie. Of dit reën, koud is of die wind waai.
"Vir my gaan dit oor bewusmaking. Dis beter om te stap as om by die huis te sit en nonsens oor ander te praat. Ek is nie ‘n sieklike mens nie en dit is ongelooflik goed vir my gesondheid. Ek is ‘n tipe 2 diabeet en met die stappery het dit ongelooflik verbeter. Ek het nie bloeddruk-probleme of hoë cholestrol nie en ek het boonop 26 kg net in die grendeltyd afgeskud sonder enige dieet."
Volgens Strauss word mens baie bewus van jou omgewing terwyl jy stap. "Dis vir my opvallend hoe skoon sekere plekke is; by sommige huise sien jy die bewoners is al vroeg op en aan die gang - nie noodwendig altyd in ‘n goeie bui nie. Jy kry ‘n nuwe perspektief van wat om jou aangaan. En ek dink jy kry kans om jou kop skoon te kry en om oor al jou sondes na te dink."
Natuurlik is mens nie altyd lus om te gaan stap nie en het mens soms ‘n kopskuif nodig om jouself te motiveer om te begin, maar hy sê as jy eers aan die gang gekom en daardie eerste tree gegee het, is die stryd gewonne. "Ek sien elke dag iets anders en kry kans om dinge in perspektief te plaas. Ek het al vier paar stapskoene in 14 maande deurgestap - ongeveer agt en ‘n half miljoen tree."
Hetta stap ook, maar hulle stap wanneer dit in die namiddag bietjie koeler is en dan doen hulle so 4 km.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'