HESSEQUA NUUS - Met die swemseisoen by swembaddens wat eers 30 April eindig, staan genoeg lewensredders gereed om oor naweke, asook Paasnaweek wanneer die besettings baie hoog is, diens te lewer.
Op die strande en by swembaddens sal voldoende lewensredders aan diens wees oor naweke om swemmers veilig te hou en noodsaaklike dienste te lewer.
Die oopstel van strande en swembaddens deur president Cyril Ramaphosa, die verlenging van die skoolvakansie tot 14 Februarie en die warm weer tans wat meer mense na Hessequa se strande lok, het die munisipaliteit genoodsaak om lewensreddingsdienste te verleng
Jaarliks word een lewensredder-koördineerder, sewe groepleiers en 32 lewensredders aangestel om strande tydens die blouvlagseisoen te beveilig. Hulle verrig ook jaarliks professionele lewensreddingsdienste by die munisipale swembaddens vanaf 1 September tot en met 30 April.
Didi Budricks, woordvoerder vir die munisipaliteit het die publiek versoek om steeds die Covid-19-regulasies streng toe te pas.
"Geen alkoholiese middels mag op 'n strand of by/in 'n swembad gebruik word nie."
Jaco Arendse (064 142 4539), lewensredder-koördineerder kan in geval van nood gekontak word. André Hansen (028 713 7861, e-pos: andre@hessequa.gov.za) is in beheer van al die strande en swembaddens in die Hessequa-streek.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa, Tuinroete nuus'