Update
STILBAAI NUUS - 'n Hele paar swemmers is hul veiligheid aan die dorp se lewensredders te danke.
By Lappiesbaai aan die oostekant en Steentjiestrand aan die westekant moes vakansiegangers uit sleurstrome gered word.
Peter-Jame Wait vertel dat twee seuns op branderborde op 17 Desember by Lappiesbaai in die moeilikheid geraak het. Sonder huiwering het hy ingeswem en gesorg dat albei veilig op die strand terugkom: "Selfs 'n seun van 15 kan huil wanneer die verligting werklik groot is."
Sy broer Standon Wait was in dieselfde tyd by Steentjiestrand aan diens toe hy twee klein dogtertjies in 'n sleurstroom opmerk. Hy het hulle uitgehaal en daarvan vergeet. Groot was sy verbasing toe hul dankbare pa onverwags 'n hele kas vloeibare verversings voor hul terugkeer huis toe laat aflewer.
• In Jongensfontein het die NSRI se pienk reddingsboei en die hulptou wat hulle saam met die Inwonersvereniging oor die getypoel gespan het, ook verhoed dat 'n hele paar mense se vakansie in 'n nagmerrie ontaard het. Iemand het ongelukkig gedurende die vakansie die boei vasgelê, vermoedelik as 'n kwajongstreek. Dis vinnig deur die NSRI vervang.
Lees 'n vorige artikel: Stilbaai lewensredders is hul gewig in goud werd
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'