Update
STILBAAI NUUS - Die plaaslike toerismeburo het onlangs sy 200ste lid verwelkom. Dit is die eerste keer in die bestaan van dié organisasie dat 200 lede opgeteken is.
CAT Aluminium & Glass, wat aan Chantell Murray en Riaan Moag behoort, was vir dié hoogtepunt verantwoordelik.
Stilbaai-toerisme, met hul kantore by Palinggat Opstal in Langenhovenstraat, waar die varswaterpalings daagliks om 11:00 gevoer word, se voortbestaan hang van sy lede af. Volgens die voorsitter, Dries de Beer, is hulle dankbaar vir die positiewe groei in die ledetal.
Met Stilbaai wat al die jare as 'n vakansiedorp bekend is, speel toerisme 'n uiters belangrike rol. Die toerismekantoor dien ook as inligtingsentrum en alle besighede en organisasies baat daarby dat dié kantoor Stilbaai en die omgewing so goed as moontlik bemark.
Die kantoor ontvang daagliks hordes navrae van toeriste wat telefonies, per e-pos, in persoon en deur middel van sosiale media inligting verlang. Verder word die Stilbaai-toerisme se webtuiste op datum gehou met inligting van lede en talle besoekers en voornemende besoekers raadpleeg dié webblad.
Hulle doen 'n beroep op alle besighede om as 'n lid by die buro aan te sluit en sodoende stukrag aan 'n onontbeerlike organisasie te gee wat tot voordeel van elke besigheid in die dorp is. Kontak die Stilbaai-toerisme se kantoor by 028 754 2602 vir meer inligting.
Lees 'n vorige artikel hier: Stilbaai-toerisme verwelkom 200ste lid
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'