STILBAAI NUUS - Moenie wag om dinge te laat gebeur om jou drome te bewaarheid nie, maak werk daarvan en begin net.
Dit is Linda Gordon, knap besigheidsvrou van dié kusdorp se leuse en haar kleindogter, Didi Serfontein beaam dit laggend. "Ouma sê altyd: Begin net, jong! Begin net!"
Linda is die trotse eienaar van twee besighede, waarvan een in Riversdal, haar geboortedorp is. Sy het sommer van jongs af al 'n passie vir besigheid gehad en het as skoolkind smiddae koejawels op die sypaadjie voor hulle huis aan die plaasmense wat daar verbygestap het, verkoop.
"My ma wou hê dat ek 'n maatskaplike werker word, maar dit is nie waar ek myself gesien het nie. Ek wou altyd net goed verkoop," vertel sy. Om daardie rede het sy dan ook na die Hoër Handelskool in Worcester gegaan.
Linda en Johnny is in 1974 getroud en wanneer hulle naweke na Stilbaai toe gery het, het sy vir haar man gesê: "Ek wil daai winkel koop. Ek gaan nog daai winkel koop!"
So ses jaar later, in 1980 sien sy toe dat 'n skoenwinkel in die dorp in die mark is. "Bo en behalwe die koopprys wou die eienaar ook R5 000 as 'goodwill' hê, toe raai my prokureur my aan om dit liefs nie te doen nie. Maar ek het vir die eienaar gevra dat as sy later wil verkoop, ek nog sal belangstel."
In daardie stadium het Linda by die munisipaliteit in Riversdal as inkomsteklerk gewerk. Op 'n dag, ongeveer 'n jaar later daag die einste winkeleienaar daar op en stel voor dat Linda slegs die voorraad koop, sonder enige ander kostes.
"Ek het sonder om te huiwer dadelik ja gesê. Ons het daardie naweek saam met vriende na die warmbronne gegaan waar 'n vriend van ons, ook 'n sakeman, my probeer bang praat het, maar ek het deurgedruk. Ek kon nie die kans laat verbygaan nie," sê sy.
Maandag het sy na die destydse stadsklerk gegaan om haar maand kennis te gee. "Ek glo daaraan om nie brûe agter my te verbrand nie en wou dinge op die regte manier doen. Die stadsklerk het egter besef hoe belangrik hierdie skuif vir my is en het gesê ek kon dadelik gaan."
Maklik was dit beslis nie. Met geen kapitaal nie, net 'n vriend wat borg vir die skuld gestaan het en die kontant in die kasregister het sy einde Augustus 1982 haar droom bewaarheid en nooit weer teruggekyk nie.
Die egpaar het in 1994 na Stilbaai verhuis en hulle woon sedert 1996 in die huis wat Johnny eiehandig vir hulle gebou het.
Gedurende 1998 het Linda 'n tweedehandse winkel in Voortrekkerstraat vir haar dogter, Thelma Oosthuizen, oopgemaak.
"Toe ek by my ma in die winkel in Riversdal begin werk het, het ek vir haar gesê ek wil asseblief tog net by 'n besige kasregister werk. My ma se antwoord? In daardie geval moet jy maar by 'n supermark gaan werk," lag sy.
"My ma het my R1 200 per maand betaal, wat daardie jare nog 'n heel skaflike salaris was. Ek het dan R200 vir myself gehou en R1 000 in die besigheid teruggeploeg," vertel Thelma.
Die perseel in Voortrekkerstraat kon mettertyd nie meer die uitbreidings hanteer nie en in 2017 het hulle die winkel na Hoofweg-Wes, oorkant die Fynbos-sentrum verskuif.
Volgens Rachel Wall, voorsitter van Stilbaai-sakekamer stel Linda 'n goeie voorbeeld vir alle vroue.
"Sy het nie net gedroom nie, maar gewerk om dit te bewaarheid. Sy is nie bang vir harde werk nie, sy het besef sy moet investeer, ook in die gemeenskap. En haar dogter en kleindogter volg duidelik in haar voetspore."
Hierdie skerpsinnige vrou met die fyn humorsin en aansteeklike laggie is op 68-jarige ouderdom nog lank nie gereed vir terugsit nie.
"Ek sal bly werk tot die gesondheid dit nie meer toelaat nie," sê sy beslis.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'