SUID-KAAP NUUS - Group Editors het vanjaar by die jaarlikse Forum for Community Journalist-toekenningsfunksie op Vrydagaand 19 Julie in Centurion, Pretoria behoorlik geskitter.
Tydens hierdie geleentheid word die toppresteerders in lokale en gemeenskapskoerante in Suid-Afrika vereer en finaliste van Caxton, Media24 en onafhanklike koerante was verteenwoordig.
Suid-Kaap Forum spog met twee toekennings, waaronder 'n eerste plek met beste nuusfoto deur San-Marié Cronjé, wat ten tyde van die inskrywings nog by dié koerant werksaam was, asook 'n derde plek in die afdeling beste voorblad, betaalde koerante. Idinga en George Herald, ons susterskoerante, is onderskeidelik in die eerste en tweede plekke.
George Herald het 'n hele paar toekennings ingeryg. Michelle Pienaar stap met die prestige titel as joernalis van die jaar weg, asook met 'n derde plek in die afdeling vir beste algemene foto's en 'n vyfde plek vir beste nuusfoto. Kristy Kolberg verower die Alet Roux-trofee as beste nuweling joernalis van die jaar, asook 'n vyfde plek vir beste algemene foto en 'n sewende plek met beste nuusfoto.
Alet Roux was 'n redakteur van Suid-Kaap Forum wat in Desember 2000 vermoor is terwyl sy met 'n ondersoek oor plaasmoorde besig was.
Hugo Redelinghuys het 'n tweede plek as beste sportskrywer en 'n derde plek vir beste sportfoto ontvang.
Van links is San-Marié Cronjé (Suid-Kaap Forum), Kristy Kolberg en Lizette da Silva (George Herald), Wilma Adamson (Suid-Kaap Forum), Michelle Pienaar (George Herald) en Zolani Sinxo (Idinga).
Hierdie voorblad van Suid-Kaap Forum het 'n derde plek verower.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'