HEIDELBERG NUUS - Pietman en Corné Janse van Rensburg het saam met hul twee oudste kinders, Pieter (14) en Markus (11) Kilimandjaro gaan uitklim.
Met maande se vooraf beplanning en voorbereiding het hulle op 30 Junie vanaf Kaapstad na Ethiopië gevlieg en 'n nag in Addis Ababa oorgebly om die volgende oggend na Kilimandjaro te vlieg. "Om ons te help met die hoogte bo seevlak klimatisering het ons twee nagte in Moshi deurgedring," vertel Corné.
Volgens haar is daar verskillende roetes om van te kies om bo op Kilimandjaro te kom. Hul het op die Machame-roete besluit wat hul sewe dae sou neem om hul klim te voltooi. "Hoe beskryf mens so 'n belewenis? In kort - gelooflik, wonderlik, ongelooflik uitdagend."
Dié roete begin by die Machame-ingang van die reservaat en neem die stappers die eerste dag deur die pragtige reënwoude aan die voet van Kilimandjaro.
"Soos die dae vorder kom mens al nader aan jou doelwit, maar die uitdaging raak al groter. Jy sien die mooiste natuurskoon en die uitsig is indrukwekkend. Die verandering in hoogte bo seevlak het 'n groot verandering op die omgewing en plantegroei. Elke volgende dag verskil die eendag se mooi totaal en al van die vorige en volgende dag," skep Corné die prentjie.
Kilimandjaro is 5 895 meter hoog. Van die begin tot die einde van die roete is ongeveer 65 km ver. Hul het elke dag tussen sewe en 12 km op- en afgeklim. "Die Barafu-kamp is die basiskamp voordat jy die hoogste punt bereik. Die lug is baie dun en dit maak jou asemhaling moeilik. Jy is baie gelukkig as jy nie 'n uitmergelende hoofpyn en naarheid ervaar nie. Jou eetlus is swak en jy kry baie koud. Die temperatuur is 'n gemiddeld van -15°C."
Die Janse van Rensburg-gesin bo-op Kilimandjaro.
Sy vertel dat jy gou besef dat jy kan maar fiks wees, maar dis net genade en deursettingsvermoë wat jou bo sal uitbring. "Jy klim baie stadig en kry die gevoel jy loop op die maan - jy sit net die een voet voor die ander. Jy sien die einde, maar registreer nie. Ons mag net vir klein rukkies op 'n slag rus, omdat jy baie maklik op dié hoogte bo seevlak aan die slaap raak en nie maklik wakker word nie. Jy fokus later net om die een tree voor die ander te sit - en dan gee jy daardie laaste tree - my Moederhart is dankbaar, want die twee seuns het goed gedoen onder omstandighede."
Sy vertel dat emosies oorweldigend was toe hul die hoogste piek bereik.
Pieter, 'n gr. 9-leerder van die Hoër Landbouskool Oakdale het die skoolvlag op Kilimandjaro geplant en vertel dat dit vir hom 'n fantastiese ervaring was. "Ek besef om weer die klein dingetjies in die lewe te waardeer, maar my motivering was om die vlag te plant," sê hy. Op die vraag of hul dit weer sal doen, antwoord Corné: "Na alles... sal ons dit weer doen - ja môre!"