Gallery Update
HEIDELBERG NUUS - Een van Heidelberg se mees bekende inwoners, asook beminde polisie-offisier het Maandag, 31 Mei die polisiediens vaarwel geroep.
Adjudant-offisier Alroy Windvogel wat op 4 Mei sy 60ste verjaarsdag gevier het, het na 35 jaar diens afgetree.
Windvogel het homself oor die jare as 'n baie passievolle geregsdienaar bewys, wat hom gou een van die mees gunstelinginwoners van sy tuisdorp gemaak het. Hy word oral as 'n mensemens beskryf wat diep gelowig is en in sy werk ook sy geloofsoortuiging uitleef.
Dié immergroen geregsdienaar wat op 'n gereelde basis aan mindergegoede inwoners 'n oasis in die woestyn was, is behoorlik deur sy gesin en kollegas bederf. Hulle het Maandag amptelik afskeid van hom geneem met 'n ete by 'n plaaslike restaurant. Die verrigtinge is ook deur lt kol Gerhard Pieterse, Da Gamaskop-polisiesone se koördineerder van visuele polisiëring bygewoon. Pieterse het twee medaljes vir onderskeidelik 20 en 30 jaar getroue diens aan Windvogel oorhandig.
Fotogalery: Polisie neem afskeid van plaaslike stasiebevelvoerder
Windvogel se vrou Cathy, asook hul twee dogters, Elzette en Liezle het ook die verrigtinge bygewoon. Lt kol Sipho Dyani, plaaslike stasiebevelvoerder het Windvogel as 'n baie lojale lid beskryf wat nooit geweier het om 'n taak uit te voer nie.
Pieterse het groot lof aan Windvogel toegeswaai en hom bedank dat hy baie waardevolle lesse aan jongelinge tydens sy termyn as opleidingsbeampte geleer het.
Adjudant offisier Andries Botha wat lank saam met Windvogel diens gedoen het, het hom as 'n man van God beskryf, wat sy werk passievol gedoen het. "Geniet jou tyd met jou familie, ons bid vir jou" het hy gesê.
Kaptein Mervyn Zana wat meer as 30 jaar saam met Windvogel gewerk het, het hom as die mees gedissiplineerde lid beskryf.
Windvogel het sy kollegas voorspoed met hul taak om misdaad te bekamp, toegewens. Hy het hulle aan die Batho Pele-beginsels herinner en gevra dat hulle dit in alle erns nastreef. "Moenie dat misdaad seëvier nie."
Sy dogter Liezle het die aanwesiges bedank vir hulle lojaliteit teenoor haar pa oor die jare. "Ons moes hom al die jare met julle deel, maar nou hoef ons nie meer nie."
Windvogel het as afskeidsgeskenk ook 'n pragtige horlosie en saagmasjien van sy kollegas ontvang.
Van links is kapt Mervyn Zana, ao Blackie Swart, ao Alroy Windvogel, lt kol Sipho Dyani, sers Imorgene Hendricks en kapt Noluvuyo Mbiya. Foto's: Clive Pretorius
Janine Jacobs en sers Imorgene Hendricks oorhandig die vrouelede se geskenk aan ao Alroy Windvogel.
Adjudant-offisier Alroy Windvogel staan by sy vrou en grootste steunpilaar, Cathy en hul dogters, Elzette en Liezle.
Vorige artikel: Ao Windvogel tree af na 35 jaar
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'