HESSEQUA NUUS - Die groot oomblik het uiteindelik aangebreek waarvoor Hessequa se lesers, adverteerders - en natuurlik die personeel van Suid-Kaap Forum die afgelope meer as twee jaar gewag het.
Vanaf volgende week, Vrydag 6 Mei gaan die koerant slegs die streek se nuus bevat!
Die Covid-19-pandemie het baie besighede finansieel nadelig geaffekteer, en die Forum was geen uitsondering nie.
Die koerant was verplig om kragte saam te snoer met ons susterskoerant, die Mossel Bay Advertiser.
Die media is afhanklik van adverteerders, wat gedurende die pandemie drasties opgedroog het.
Wat meeste van ons lesers nie besef nie, is dat die hoeveelheid advertensies in 'n koerant die beskikbare spasie vir berigte bepaal.
Mosselbaai en distrik het by verre baie meer besighede as die Hessequa-streek, wat uiteraard beteken het dat die Advertiser baie meer spasie vir redaksioneel beskikbaar gehad het.
Maar sake is gaandeweg besig om te verander.
Buiten die klompie besighede wat, ten spyte van die pandemie die waarde van blootstelling in die media besef en bly adverteer het, het al meer instansies dieselfde begin doen - en as gevolg daarvan kan Suid-Kaap Forum weer sy plek as volwaardige koerant met die streek se plaaslike nuus inneem.
Aan elke besigheid, instansie, firma en selfs inwoners wat ons oor die afgelope jare bly ondersteun het, hetsy deur middel van advertensies, groot of klein en ook in die snuffelgids, wil ons baie dankie sê.
Ons het ook groot waardering vir ons lesers wat getrou elke week R4 afgeknyp en die koerant gekoop en bly hoop het dat dat daar meer plaaslike nuus in sal wees.
Dus, moenie volgende week se historiese uitgawe van Suid-Kaap Forum misloop nie!
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'