Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Ek is lief vir ouma.
Dis die woorde van die skamerige Chiwaco Davids, wat vir 'n maand lank spoorloos verdwyn het voordat hy weer met sy brose gryskop-ouma Alice Davids, herenig is.
Die 18-jarige gr.10-leerder aan Gerrit de Villiers Senior Sekondêr se ouma het hom op Donderdag 4 Julie winkel toe gestuur, maar hy het nie die aand huis toe gekom nie.
Ook nie die volgende aand nie.
Hy is as vermis aangemeld en 'n vasberade polisiespan onder leiding van ondersoek-beampte ao. Hennie de Jager het nooit ophou soek na hom nie. Elke leidraad is ondersoek - sy liefde vir rugby het hulle na Heidelberg en Zoar by Ladismith gevat waar sy gunstelingspan Riversdal Dorp gespeel het.
Gerugte dat hy in George gesien is, het hulle meer as een keer soontoe laat ry waar hulle die strate en die plekke waar haweloses slaap, gefynkam het. Verskeie mense het laat weet hulle het hom gesien, maar die soektog het niks opgelewer nie. Die polisie het ook gereeld by Ouma Alice kom hoor of sy dalk al iets van hom verneem het.
Sy was rasend van bekommernis. "Baie dinge het deur my kop gegaan: eet hy, slaap hy, leef hy nog? Saans as ek iets eet, het ek gewonder of hy kos het, en wanneer ek gaan slaap, het ek gewonder waar hy slaap.
Ek was veral bekommerd omdat ek geweet het sy chroniese medikasie wat hy elke aand moet neem, gaan opraak."
Maar sy het aanhou glo dat hy sal huis toe kom. "Baie mense het vir hom gebid en gesê ons moet moed hou."
Kyk 'n video hieronder:
Maar waar was hy al die tyd?
Hy vertel vir Suid-Kaap Forum die oggend toe sy ouma hom winkel toe gestuur het, het 'n vreemde man hom genader en gevra het of hy nie wil help vrugte smous nie.
"Ons het met sy bakkie van dorp tot dorp gery en lemoene en nartjies uit die Oos-Kaap aan informele winkels in die Suid-Kaap verkoop.
Ons het by die man, sy vrou en kinders se huis in Jeffreysbaai gebly. Hy het my nie met geld betaal nie, maar met kos en slaapplek. Dit was lekker."
Wat het hy in die tyd weg van sy ouma se huis af van mense geleer?
"Ek het geleer mense gee om en respekteer ander."
Hoe het dit gekom dat hy Saterdag 1 Augustus weer teruggekeer het huis toe?
"Die man het gesê ek moet bietjie huis toe kom. Hy het my naby KFC langs die N2 afgelaai, iemand het die polisie gebel en Jaco Pretorius van forensiese patologiese dienste het my kom haal."
Hy is eers hospitaal toe geneem want sy voete was seer geskaaf deur sy tekkies. En toe het hulle hom huis toe na sy ouma toe geneem.
"Ek gaan nie nou met hom raas nie, maar ek gaan nog vir hom die leviete voorlees. Wat hy gedoen het, was baie onverantwoordelik en gevaarlik."
Maar al praat nie een van die twee baie nie, is dit duidelik dat daar 'n spesiale omgeeband tussen hulle is. "Ek is lief vir ouma."
Lees 'n verwante artikel hier: Tiener nog soek
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'