HEIDELBERG NUUS - 'n 38-jarige man is op Mandeladag op Donderdag 18 Julie op heterdaad betrap na hy glo by 'n drankwinkel in die middedorp ingebreek het.
Die aangeklaagde het die naweek in die polisieselle deurgebring en Maandag 22 Julie vlugtig in die hof verskyn.
Hy is van inbraak aangekla, maar volgens die staatsaanklaer is die opset onbekend.
Die verdagte is vryborg toegestaan en op eie verantwoordelikheid vrygelaat. Hy is gewaarsku om weer op 20 Augustus in die hof te verskyn.
Volgens ao. Alroy Windvogel, die polisie se skakelbeampte, is die man vasgetrek na die eienaars glo geruime tyd al besef het iets is nie pluis nie. Hulle het Donderdag glo teen toemaaktyd die deure gesluit en in die gebou geskuil.
Volgens Windvogel het die aangeklaagde klaarblyklik van 'n aangrensende vertrek deur die dak toegang tot die drankwinkel verkry. Hy was glo baie verbaas toe die eienaars omstreeks 20:45 die ligte aanskakel en hom op heterdaad betrap. Altesaam R150 kontant en 'n paar pakkies sigarette is in sy besit gevind.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'