HEIDELBERG NUUS - 'n 20-jarige jong man is Vrydagaand 24 Augustus om ongeveer 23:30 in Pentzstraat deur die plaaslike polisie, onder leiding van sers. Gerrit Jantjies, sektorbestuurder, gearresteer op aanklag van bestuur onder die invloed van alkohol.
Vroeër dieselfde aand, om ongeveer 21:30 is 'n 50-jarige man van Mosselbaai in Olieboomrylaan, Slangrivier, in hegtenis geneem. Jantjies en sy span was weereens vir die arrestasie verantwoordelik.
'n 52-jarige vragmotorbestuurder van Durbanville is Sondagmiddag 26 Augustus op die N2 in die dorp in hegtenis geneem op dieselfde aanklag. Volgens die polisie was hy op pad na Port Elizabeth met 'n vrag toe hy deur die provinsiale verkeersbeamptes tydens 'n roetine-ondersoek voorgekeer is.
Al drie persone is nadat hul bloed getrek is, op waarskuwing vrygelaat tot die uitslag van die toetse bekend is.
Volgens ao. Alroy Windvogel, plaaslike polisiewoordvoerder, sal hulle geen dronkbestuur op die paaie in die streek duld nie. Hy doen 'n ernstige beroep op alle bestuurders om nie onder die invloed van alkohol te bestuur nie.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'