RIVERSDAL NUUS - Harte vol liefde en 'n selfonderhoudende leefstyl het Huis Wallace Anderson se balansstaat sonder moeite laat klop.
Tydens hul algemene jaarvergadering op Donderdag 19 September het die verslag van die voorsitter van die bestuurskomitee, Sandra van Jaarsveld 'n prentjie van gesonde inkomste en verstandige besteding geskets. Dié versorgingsentrum vir slagoffers van spinale beserings ontvang geen subsidies nie.
Benewens die drukkery, plastiekwinkel en haarsalon, asook projekte soos Loslitdag en 'n kermis wat deur die inwoners bedryf word, is hul grootste bron van inkomste donasies.
Hul personeel is volgens die voorsitter een van hul grootste bates en 'n aantal sertifikate vir onderskeidelik vyf jaar, 10 jaar en 25 jaar diens is uitgedeel. Na afloop van die amptelike vergadering het die gasspreker Mike Steytler van Stilbaai onderhoudend oor 'super bugs' in hospitale gesels. Hy is 'n afgetrede natuurwetenskaplike wat die vernietigende uitwerking van weerstandige kieme aan sy eie linkerbeen gevoel het.
Die been moes uiteindelik afgesit word as gevolg van die skade wat methisillien-weerstandige Staphylokokkus aureus (MRSA) bakterieë aangerig het.
Van links: Thinus Duvenage, Mike Steytler, W'anyah Brand en Sandra van Jaarsveld. Foto: Deona Aucamp
Volgens Steytler het alle hospitale probleme met hierdie ramp van 'n kiem wat ontstaan het as gevolg van die onoordeelkundige en foutiewe gebruik van antibiotika deur die jare. Sodoende is bakterieë wat teen alle bekende antibiotika bestand is, gekweek.
Na die spreker 'n klompie praktiese wenke vir die behandeling van weerstandige bakterieë met die gehoor gedeel het, is die verrigtinge met 'n gesellige kuier afgesluit.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'