Gallery Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Dertien mense het ernstige en minder ernstige beserings opgedoen toe 'n bakkie omstreeks 18:00 Maandag 27 Januarie by die hoofingang na die dorp gerol het.
Dit was die vierde ongeluk in 24 uur.
"Volgens die bestuurder van die wit Isuzu-bakkie het die voertuig se remme gefaal toe hy van die N2 af links op die Vermaaklikheidpad na Kwanokuthula wou draai," sê konst. Venia Daries, polisiewoordvoerder.
Die bestuurder het na bewering in die draai beheer oor die voertuig verloor. Die bakkie, met 'n kappie het omgeslaan en in 'n stormwatersloot tussen die pad en die begraafplaas op sy wiele te lande gekom. Die kappie het in die sloot bly lê. Die bakkie het 12 passasiers vanaf Stilbaai vervoer.
Kyk 'n video hieronder:
Toe Suid-Kaap Forum daar aankom, was nooddienspersoneel reeds op die toneel. Die polisie het hul hande vol gehad om die nuuskierige skare op 'n afstand te hou.
Ambulanspersoneel het die beseerdes op die toneel gestabiliseer voor hulle na Riversdal-hospitaal geneem is. Ses van die pasiënte is steeds in die hospitaal, terwyl sewe reeds ontslaan is.
Lees 'n vorige artikel: 12 werkers beseer toe bakkie rol
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'