Update
ALBERTINIA NUUS - Pogings deur 'n bestuurslid en die opsigter van Albertinia-gholfklub, asook die plaaslike polisie om kinders te verhoed om in die dam by die klub te swem, blyk tevergeefs te wees.
Karools van Rensburg het aan Suid-Kaap Forum gesê dat dit nie vir die kinders veilig is om daar te swem nie.
"Die water is ongesond en dit stink. Ek is bang dat die kinders kan verdrink en wil 'n beroep op die ouers of hul versorgers doen om toe te sien dat hul kinders nie in die dam kom swem nie."
Die kinders kom gewoonlik in groepe en sommiges vang kattekwaad aan, wat groot skade vir die gholfklub tot gevolg het. Volgens die opsigter was daar ook al van die waterpype en spreiers gebreek.
Van die kinders het aan die koerant genoem dat hulle nie 'n ander plek het om te gaan swem nie, omdat die dorp nie oor 'n munisipale swembad beskik nie. Hulle ouers kan dit ook nie aldag bekostig om hulle na Riversdal se swembad of na die see by Gouritsmond of Stilbaai te neem nie.
Kommentaar deur Hessequa-munisipaliteit
Daar is nie in die huidige begroting voorsiening vir 'n munisipale swembad in Albertinia gemaak nie, maar die publiek is welkom om 'n begrotingsinset in te dien tydens die Burgemeesters Uitreike wat gedurende April in die onderskeie dorpe gaan plaasvind.
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'