NASIONALE NUUS - Georganiseerde landbou verwelkom president Cyril Ramaphosa se aankondiging om die Covid-19-uitbreking as 'n nasionale ramp te verklaar.
"Hierdie pandemie het nie net 'n uitwerking op die dag-tot-dag werksaamhede van alle sektore nie, maar dit hou ook 'n ernstige gesondheidsgevaar vir alle Suid-Afrikaners in," het Omri van Zyl, uitvoerende direkteur van Agri SA Maandag 16 Maart gesê.
Volgens hom is die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad (NEDLAC) besig om 'n omvattender reaksie op die verklaring saam te stel. Die onderskeie ministeriële departemente kom ook bymekaar om te kyk hoe die invloed van die ramp versag kan word. Agri SA sal deurlopend inligting oor die prosesse en die regering se planne om die pandemie te bestuur bekend maak.
Intussen het die organisasie 'n beroep op die landbousektor gedoen om aan die regering se voorsorgmaatreëls om die verspreiding van die virus te bekamp, gehoor te gee.
"Die Covid-19 pandemie is nie net 'n epidemiologiese probleem nie, maar 'n globale gesondheidsprobleem en kan slegs deur middel van 'n geïntegreerde en globale benadering aangepak word. Kom ons werk saam om enige optrede wat tot die verdere verspreiding van die virus kan lei, stop te sit," het hy gesê.
Agri SA het vroeër gesê die virus knou die landboubedryf ook finansieel ernstig.
"Die huidige onsekerheid in die markte en die wêreldwye verlangsaming plaas bykomende druk op die verswakkende Suid-Afrikaanse ekonomie. Dit is 'n ingewikkelde taak om die ekonomiese impak op die Suid-Afrikaanse landbou te bepaal. Op die korttermyn verwag ons uitdagings met die voorsienings- en logistieke kettings wat ernstige skade vir uitvoergedrewe landboukommoditeite kan beteken."
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'