Update
HESSEQUA NUUS - ‘n 39-jarige man is vanoggend (4 Januarie) in Mosselbaai in hegtenis geneem na ‘n 11 maande oue seuntjie, Jamie-Lee Fatjela in Heidelberg raakgery is en later die dag in die George-hospitaal aan sy wonde beswyk het.
Die seuntjie het Saterdag 2 Januarie om 09:20 voor sy ouerhuis in ‘n nou oprit na informele huise in die Dollar Square-woongebied in Heidelberg gespeel.
Die bewerings is dat die verdagte, ‘n Egiptenaar wat besighede in informele nedersettings bedryf, in die oprit opgery het om geld in te vorder by van die inwoners.
Die oorledene se sussie sou gesien het hoe die man oor Jamie-Lee se kop gery het. Jamie-Lee se moeder, Janine het die man betyds gestop voor die motor se agterwiele ook oor hom gery het. Die man het egter weggejaag.
Onder leiding van ao Reon Grundlingh is ‘n groot soektog na die verdagte van stapel gestuur, waarna hy vanoggend in Mosselbaai gearresteer is.
Die verdagte sal môre (5 Januarie) in die Heidelberg-landdroshof op aanklag van strafbare manslag verskyn.
Hy is in hegtenis.
Vorige artikel: Kind voor ouerhuis doodgery
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'