HEIDELBERG NUUS - 'n Buitelander, vermoedelik ‘n Egiptenaar, word gesoek nadat ‘n kleuter Saterdag, 2 Januarie tragies gesterf het toe hy deur 'n voertuig voor sy huis getref is.
Die kleuter, Jamie-Lee Fatjela (11 maande) het ongeveer 09:20 voor sy huis gespeel toe die bestuurder na bewering oor sy kop gery het.
Die ongeluk het in Dollar Square, 'n informele woonbuurt in Heidelberg plaasgevind.
Volgens Janine Fatjela, ma van Jamie-Lee het hy soos oudergewoonte buite die voordeur van hul sinkhuis gespeel, toe die buitelander skielik in die nou pad opgery gekom het om geld by van die bure te kollekteer. Sy vertel baie hartseer hoe haar ouer dogter Ayanda (6) paniekerig begin skree het toe sy sien dat die motor haar broer tref en oor hom ry.
"Ek het uitgestorm en op die bestuurder geskree dat hy moet stil hou sodat hy nie nog vir Jamie-Lee met die linkeragterwiel ook tref nie. Hy het wel stilgehou sodat ek my kind onder die wiel kon uithaal, maar het onmiddelik van die toneel weggejaag.”
Beide die ambulans asook die polisie is ontbied en is die erg beseerde kleuter eers na die Riversdal-hospitaal vervoer, waarna by per helikopter na die provinsiale hospitaal op George oorgeplaas is. Hy het egter kort na sy aankoms gesterf.
Volgens die ondersoekbeampte, ao Reon Grundlingh is ‘n klag van strafbare manslag geopen. Hy het bevestig dat die bestuurder weggery het sonder om vas te stel of die oorledene enige beserings opgedoen het.
Volgens Grundlingh is die polisie vol vertroue dat hulle spoedig die beskuldigde sal aankeer.
Enige iemand met inligting oor waar die verdagte hom bevind, kan Grundlingh (073 479 1513) skakel.
Familie, vriende en bure staan verslae buite rond waar Jamie-Lee vroeër die oggend raakgery is. Foto: Clive Pretorius
Janine Fatjela sit hier 'n paar maande gelede baie liefdevol met Jamie-Lee, haar engelkind. Foto verskaf
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'