Update
HEIDELBERG NUUS - Inwoners van dié dorp was op 7 Desember onaangenaam verras om bruin water uit hul krane te sien vloei.
Hessequa-munisipaliteit se bestuurder, Johan Jacobs, verduidelik dat skoon drinkwater vir Heidelberg, Slangrivier en Witsand vanaf Overberg Water kom.
Overberg Water het Saterdag 7 Desember probleme by hul aanleg begin ondervind, wat bruin water in die reservoirs en retikulasienetwerk van die munisipaliteit laat beland het.
Volgens Jacobs het die munisipaliteit onmiddellik toerusting om te help beskikbaar gestel en twee watertrokke vanaf Riversdal en Stilbaai gereël om skoon water in die geaffekteerde areas uit te deel. Die toevoer van die betrokke reservoir is ook afgeblok om te verhoed dat skoon water met bruin water meng.
Goeie samewerking tussen Overberg Water en Hessequa-munisipaliteit het verseker dat die probleem laat Saterdagaand opgelos is. Hoewel daar nog vir 'n rukkie bruin water mag wees, het Jacobs benadruk dat dit veilig vir gebruik is. Weens die droogte wou die munisipaliteit nie 1 miljoen liter water net weggooi nie.
Die tegniese departement het intussen die reservoir skoongespoel en dit is weer Dinsdag 10 Desember in werking gestel.
Jacobs bedank inwoners vir hul begrip en verseker almal dat te alle tye gepoog word om water van hoogstaande gehalte te lewer.
Lees 'n vorige artikel: Heidelberg het binnekort weer helder water
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'