Update
HESSEQUA NUUS - Die landwye verbod op die veiling en skou van gesplete-hoefdiere weens bek-en-klouseer het ook 'n uitwerking in die streek.
Die skaapskou wat elke jaar een van die hoogtepunte by die Heidelberg-landbouskou is, moes weens die verbod gekanselleer word.
Vee wat in die jeugskou gebruik word sal deur die skoukomitee self verskaf word.
Aanvanklik was die verbod slegs op Limpopo, Mpumalanga, Gauteng and Noordwes van toepassing, maar sedert 4 Desember geld dit landwyd vir alle gesplete-hoefdiere (beeste, skape, bokke, mak- en wildevarke en enige ander spesies, insluitend wild).
Die verbod bepaal diere van twee of meer bronne van oorsprong mag nie binne 28 dae na twee of meer plekke versprei word nie.
Diere word toegelaat om direk van 'n plaas of 'n voerkraal na 'n abattoir vervoer te word indien die abattoir die finale bestemming is. Dit is onwettig om diere uit 'n abattoirfasiliteit te beweeg.
"Die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) ondersteun die drastiese voorkomingsmaatreëls," het voorsitter Koos van der Ryst Vrydag 30 Januarie gesê.
Volgens hom het dit 'n ernstige invloed op kommersiële en ontwikkelende produsente, asook die res van die rooivleiswaardeketting.
"Altesaam1,2 miljoen huishoudings in Suid-Afrika besit lewende hawe en word deur die voorkomingsmaatreëls beïnvloed in terme van inkomste- en voedselsekuriteit. Dit geld ook vir die plattelandse ekonomie en daarom is dit noodsaaklik dat die omvang van die uitbreking gou bepaal moet word. Die owerhede en die bedryf moet saamwerk om besmette gebiede te isoleer sodat na normale handelspraktyke teruggekeer kan word."
Hy het 'n beroep op die nasionale minister van landbou gedoen om 'n ramptoestand af te kondig sodat finansiering bekom kan word om die siekte te hanteer ten einde 'n nasionale ramp af te weer.
"Boma- en kommersiële wildveilings is opgeskort, maar katalogusveilings gaan voort," sê dr. Piet van Zyl van die Nelson Mandela Universiteit se George-kampus.
Lees 'n vorige berig: Bek-en-klouseer verbod raak skou
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'