Update
HEIDELBERG NUUS - Kunstenaar Louise Kluyts en die dames met die goue harte het altesaam 20 komberse en meer as 50 stuks speelgoed aan Loretta Meyer (prinsipaal) en die trotse ouers oorhandig.
'n Groep bejaardes van die dorp is deur Louise Kluyts, bekende kunstenaar van die dorp en vrywilliger, genader om iets aan die kleuters van Neskuikentjie-kleuterskool se omstandighede te doen.
Sy het in samewerking met Jacky Gildenhuys (bibliotekaresse) 'n groep vroue genader wat knap met brei- en hekelwerk is, om kombersies en ander sagte speelgoed vir die kleuters te brei.
Tydens die oorhandiging by die skool was daar ouers, bestuurslede en personeellede van kindersorg aanwesig. Sandra September (maatskaplike hulpwerker) het die aanwesiges kortliks oor die regte van kinders ingelig.
September het veral klem gelê op die vier belangrike aspekte van kindermishandeling naamlik: seksuele, fisieke en emosionele mishandeling en die verwaarlosing van kinders.
Meyer het al die dames vir hul onbaatsugtige diens bedank.
Kluyts het die ouers en onderwysers alle voorspoed vir die toekoms toegewens. Sy het die ouers veral aangemoedig om 'n nuwe vaardigheid aan te leer sodat hulle dit aan hul kinders kan oordra.
Die groep vrywilligers is hier voor, van links: Anette Taljaard, Louise Kluyts, Mei Heyn, Caroline Kluyts en Jacky Gildenhuys. Agter hulle is die trotse en dankbare ouers, onderwysers, kindersorg personeel en bestuurslede met van die komberse en speelgoed.
Sy het aangebied om in die nabye toekoms breiklasse met behulp van die senior burgers te fasiliteer.
"'n Kind wat iets konstruktief met hul hande kan doen, is een kind minder by misdaad betrokke," het Kluyts benadruk. Sy het vroeër in die jaar die skoolgebou met haar vernuftige skilderwerk opgehelder.
Meyer het ter afsluiting 'n sertifikaat van waardering en verdienstelikheid aan Kluyts oorhandig.
Lees 'n vorige artikel: Goue oues verwarm kleuterharte
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'