Elizabeth Te Water-Naudé (70) van die Paarl, haar broer en sy vrou, Marinus (74) en Ingrid Te Water-Naudé (64) van Somerset-Oos het vir 'n vriendin se 80ste verjaarsdag hierheen gekom. Tydens 'n uitstappie in Heidelbergweg Saterdag, 23 November teen ongeveer 18:00 het 'n verdagte hulle van agter genader en Elizabeth se handsak gegryp. "'n Struweling het plaasgevind en sy het verskeie oop wonde aan albei haar arms opgedoen wat met 'n skerp voorwerp toegedien is," het kapt. Bernadine Steyn, polisie woordvoerder, Suid-Kaap gesê. Marinus het haar te hulp gesnel en het geringe beserings opgedoen.
Volgens a.o. Boer van Rensburg wat in die omgewing van die voorval woonagtig is, het hy die vrou om hulp hoor skree. Hy het die verdagte op die toneel in hegtenis geneem. "Sy het geweldig baie gebloei van die wonde op haar arms, maar gelukkig het 'n perso-neellid van EMS toevallig hier verbygery en die slagoffer op die toneel behandel voor sy per ambulans na die hospitaal geneem is," verduidelik Van Rensburg.
Suid-Kaap FORUM was telefonies in gesprek met die slagoffer Dinsdag, 26 November toe sy reeds na haar huis in die Paarl teruggekeer het. Volgens haar sal sy Riversdal beslis besoek, ten spyte van die voorval.
"Ek is verstom oor die absolute behulpsaamheid en vriendelikheid van die mense, van a.o. Van Rensburg, die paramedikus en haar 9-jarige seuntjie, Heather en Ciska op die toneel wat my ondersteun het, die ambulanspersoneel, polisie wat so vinnig reageer het, ongevalle, die geneesheer, die gastehuis waar ons tuis-gegaan het en ons boonop 'n aand gratis laat bly het - sommer almal. Ek moet egter die jong seun uitsonder, want hy het my heeltyd gerusgestel en gesê 'toemaar Tannie, die man is nou in die polisievan, hy sal tannie nie meer kan seermaak nie.' Dis 'n baie besondere kind," het sy gesê. Sy beskou haar broer ook as 'n held wat haar te hulp gesnel het na haar skietgebed en die aanvaller op die grond neergedruk het voor die polisielid se aankoms.
Die 35-jarige verdagte, Johnny Solomon het Maandag, 25 November in die plaaslike landdroshof hof verskyn op 'n aanklag van roof, poging tot moord en aanranding met die opset om ernstig te beseer. Hy bly in aanhouding tot 2 Desember wanneer hy vir borg kan aansoek doen.
* IN SHORT
The quick response of an off-duty Warrant Officer, Boer van Rensburg based at Riversdale Police Station, led to the arrest of a man who was busy robbing an elderly lady. Two elderly ladies and an elderly man, Mr. and Mrs. Marinus and Ingrid Te Water-Naudé and his sister Elizabeth Te Water-Naudé (70) were walking in Heidelberg Avenue on Saturday, 23 November at approximately 18:00 when the suspect approached them from behind and grabbed the handbag of the 70-year-old victim. A struggle ensued during which she sustained several open wounds on both her arms inflicted by a sharp object. The police officer heard the female victim calling for help and arrested the suspect, Johny Solomon (35) on the scene. He appeared in the Riversdale Magistrates' court on Monday, 25 November on a charge of robbery, attempted murder and assault with the intend to do serious bodily harm. The case was postponed to 2 December.

Die aanval het reg langs Suid-Kaap FORUM se kantoor in Heidelbergweg gebeur en die bloed is nog sigbaar op die grond.