RIVERSDAL NUUS - Die jaarlikse matriekeindeksamen het op Maandagoggend amptelik landwyd in alle erns begin.
Juan-Maré Conradie het by die Hoër Landbouskool Oakdale en die Hoërskool Langenhoven en Gerrit du Plessis Sekondêr, almal in Riversdal, gaan uitvis hoe matrieks die eerste week se vraestelle ervaar het.
Pieter Pretorius, Hoër Landbouskool Oakdale (Afrikaans Vraestel 1): "Dit het nie baie goed gegaan nie. Elke vraag het maar sy eie uitdagende vrae. Ek het die leesstuk moeilik gevind. Ek sal maar opmaak in vraestel twee en drie."
Bevané Swart, Gerrit du Plessis Sekondêr: "Ek het op 1 November Ekonomie eerste vraestel geskryf. Toe ek die vraestel oop maak het ek eerste na my langvraag gegaan en toe ek die geliefkose langvraag sien was ek baie opgewonde want ek het op die korrekte langvraag gefokus . My siening oor die vraestel is dat dit redelik maklik was en ek is positief oor my uitslae . Ek het my beste gegee en ek glo my beste was goed genoeg."
Arend Blom, Hoër Landbou-skool Oakdale (Afrikaans Vraestel 1): "Daar was hier en daar 'n paar uitvangplekke gewees, verder was die vraestel nie te sleg nie."
Rosa van Zyl, Hoërskool Langenhoven (Afrikaans Vraestel 1): "Ek het geskryf soos wat ek 'n gewone Afrikaanse vraestel sal skryf. Dit was 'n maklike vraestel."
Fayden Sefoor, Hoërskool Langenhoven (Afrikaans Vraestel 1): "Ek het redelik goed geskryf, ek dink dit was 'n baie billike vraestel gewees waar almal goed sal kan doen."
Christiaan Schabort, Hoërskool Langenhoven (Afrikaans Vraestel 1): "Ek het baie lekker geskryf."
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'