Update
RIVERSDAL NUUS - Adriaan Geldenhuys (27) is die blou-oog boer van Riversdal waaroor baie meisies droom.
Meeste mense het die Boer soek 'n vrou-reeks getrou elke week gekyk omdat hulle juis wou sien wat Adriaan daardie week gaan besluit.
Hy is een van die top-5-boere wat op die einde 'n meisie, Helene, gekies het.
Hy en Helene is steeds saam en hulle leer mekaar beter ken. Hulle is opgewonde oor dit wat voorlê.
Adriaan vertel: "Ek het die reeks van seisoen een af begin kyk. Ek het nog altyd daarvan gehou en gesê dat ek gaan inskryf. Met seisoen 9 het my pa vir my gevra of ek gaan inskryf, maar ek wou eers wag.
"Dit was vir my baie belangrik om te weet dat ek reg was om iemand in my lewe te hê."
Hy is gebore en getoë op Riversdal waar hy sy laer- en hoërskool loopbaan voltooi het.
Nadat hy gematrikuleer het, het hy sy landbougraad voltooi en dadelik teruggekeer plaas toe.
Adriaan en sy broer is die vierde geslag wat op die familieplaas saam met hul pa boer.
Dit is sy droom om te boer en kan homself nie iets anders sien doen nie.
"Ek sal dit vir niks verruil nie. My toekomsplan is om iets op te bou wat ek vir my nageslag kan los.
"Ek sal dit baie graag saam met my pa en broer wil bereik. Dit sal iets wees om op trots te kan wees."
Hy is verantwoordelik vir die vee-afdeling op die plaas wat tans skape is.
Seisoen 10 van Boer soek 'n vrou het verlede jaar aangebreek en Adriaan het geweet dat hy dié keer reg is om in te skryf.
Sonder om te skroom het hy sy vorms ingevul en briewe van oor die land het ingestroom, almal wou die vriendelike jong boer met die mooi glimlag ontmoet.
"Aan die begin was ek baie skaam en op my senuwees. Dit was vir my baie snaaks om myself te hoor en op televisie te sien.
"Mens raak later gelukkig gewoond daaraan. Die kameraspan laat mens baie gemaklik voel en hulle maak dit regtig makliker vir jou om voor die kameras te praat."
Volgens hom was die moeilikste deel van die reeks etenstyd. "Hoewel jy meer gemaklik voor die kamera voel is dit steeds moeilik om te eet wanneer 'n kamera op jou fokus.
"Almal het altyd so stil geraak terwyl ons geëet het. Jy is te bang om iemand iets te vra omdat hulle dalk besig is om te kou of dan net 'n hap gevat het.
"Jy wil ook nie niks sê nie omdat almal dan weer dink dat ons niks vir mekaar te sê het nie. Ek het hard gekonsentreer want ek wil nie lelik hap of kou nie."
Naas boerdery is hy ook baie lief vir kos maak. Hy maak glo 'n malvapoeding wat tot die VLV-tannies jaloers sal maak.
Sy pa was lief vir kos maak en dit is waar hy gesien het dat mens 'n passie vir dit kan kweek. Hy kan enige oondgereg baasraak en braai ook graag.
Hy het die verfilming en ondervinding van die reeks baie geniet, maar sê dat die slegtes vir hom was wanneer hy 'n meisie moes huis toe stuur.
"Dit is iemand wat seergemaak gaan word. Iemand wat hoop gehad het en ingeskryf het omdat daar iets is van jou waarvan hulle hou."
Met sy ondervinding het hy ervaar dat die reeks jou regtig die geleentheid gee om iemand te ontmoet.
"Jy kan meisies van oor die land ontmoet en nie net in jou eie streek nie. Hier kan jy nie net vir liefde soek nie, maar dit vind ook."
Die publiek herken hom so nou en dan en partymaal vra iemand om 'n foto saam met hom te neem.
Hy voel nie beroemd nie en is net verlig en baie bly dat alles so goed uitgewerk het.
Adriaan se wenke vir boere wat wil inskryf en liefde vind is:
- Skryf vir die regte redes in.
- Wees seker dat jy jouself goed ken.
- Weet wat jy wil hê.
- Doen selfondersoek en maak seker dat jy reg is daarvoor om iemand in jou lewe te hê.
- Wanneer jy seker is oor wat jy in 'n lewensmaat soek, maak dit alles soveel makliker
- Daar kan iets mooi daarvan kom.
Die laaste episode van die huidige seisoen van Boer Soek 'n Vrou word op 26 Januarie uitgesaai.
Inskrywings vir boere wat graag vanjaar wil inskryf is reeds oop. Boere of plaasbestuurders, manlik of vroulik, kan op kykNET se webtuiste, www.kyknet.tv, inskryf om deel te wees van die elfde seisoen.
Hoe werk die inskrywings?
- Besoek www.kyknet.tv waar jy óf aanlyn kan inskryf of 'n inskryfvorm kan aflaai.
- Foto's en afskrifte van identiteitsdokumente moet inskrywings vergesel.
- Inskrywings moet die vervaardigers voor middernag op 9 Februarie vanjaar bereik.
- Die 10 gekose boere sal teen 8 Maart vanjaar in kennis gestel word.
- Diegene wat wil deelneem moet ongetroud en ouer as 21 jaar wees.
Vir navrae kontak Marche Media by 079 335 5137 of stuur 'n e-pos na boer@marche.media.
Lees 'n vorige artikel: Boer soek 'n vrou in ons visier
ARTIKEL & FOTO: SAN-MARIÉ CRONJE, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'