Die gaste kon smul aan die heerlikste geregte van 'n a la carte-spyskaart af en dit boonop teen bekostigbare en baie mededingende pryse; van vingerlek-lekker voorgeregte, smullekker hoofgeregte en nageregte wat enige smulpaap se droom is. 'n Bonus is dat daar 'n 15% korting op die hoofgereg vir Augustus is. Die kok en man aan die stuur van die kombuis, is geen onbekende nie en menige inwoner het reeds met Nico van Dyk van Legends Restaurant se vaardigheid met enige gereg kennis gemaak.
"Ek het besluit om hierdie skuif te maak omdat hier 'n rustiger atmosfeer vir kliënte is en natuurlik omdat die vooruitsigte beter is," verduidelik hy. Nico gee die versekering dat alle geregte wat voorberei word, met absolute sorg en noukeurigheid gedoen word. "Ons het verskeie komplimente ontvang van die gaste wat Vrydag- en Saterdagaand hier geëet het vir die kos wat van hoogstaande gehalte was, asook die vriendelike diens en ons gaan daarna streef om te bly verbeter," gee Jakkie die versekering.
Cocky's Restaurant en dameskroeg is van Maandag tot Saterdag oop vanaf 11:00 tot 14:00 en weer van 18:00 tot laat. Wegneemetes is ook beskikbaar. "Ons doen ook allerlei funksies, van troues, verjaarsdae, werksfunksies of enige ander spesiale geleentheid. Mense moet net vroegtydig bespreek," sê Nico. Hulle beoog om mettertyd die restaurant heeldag oop te hou vir ligte etes en 'n teetuin.
'n Droom word waar
Die restaurant se naam is ter nagedagtenis aan haar man, wie die kinders altyd 'Cocky' genoem het. Jakkie, Corrie en 'n paar werkers het self die restourasie aan die hotel gedoen, maar hy is skielik in 2011 oorlede en sy moes alleen voortgaan. Dit was moeilik, maar sy het deurgedruk en vandag is nog 'n fase van hul droom afgehandel en kan sy met tevredenheid terugkyk op hul handearbeid. "Ek sou dit egter nie kon doen as dit nie vir die Riversdal gemeenskap was wat my drome vlerke gegee het nie. En ek vertrou dat hierdie drome nog arendsvlerke gaan kry. As ek kon, sou ek hierdie ou fiets hier agter in die erf se mandjie vol rose gelaai het en vir elkeen van hulle gaan gee het," sê sy opreg. Sy bedank ook al haar verskaffers en elkeen wat 'n bydrae tot die sukses van die openingsaand gelewer het. Sy nooi elke inwoner, maar ook besoekers van ander dorpe uit om die restaurant op die proef te stel en selfs van die oornag/vakansiegeriewe van die hotel gebruik te maak. "Hou gerus die koerant dop vir die opening van ons deli en ook wanneer ons heeldag oop gaan wees," vra sy.
Kontakbesonderhede
Besoek Cocky's Restaurant en dameskroeg/Central Hotel in Hoofstraat 16, Riversdal of skakel hulle vir 'n bespreking by 028 713 4787.
Gesondheid op 'n heerlike maal. Van links sit Emma en Oosie Oosthuizen, en oorkant hulle van agter Anton, Adri en JC Swart.