RIVERSDAL NUUS - Een van ons eie melkboere het hierdie jaar tweede plek behaal in die Melkprodusente-organisasie (MPO) en Nedbank se rentmeesterskaptoekennings.
Garth Hume, wat net buite Riversdal saam met sy familie op die plaas Bakenskop boer, het vanjaar vir die eerste keer aan hierdie kompetisie deelgeneem.
"Ons voel geëerd om jaarliks prominensie te verleen aan die room van ons bedryf, aangesien volhoubaarheid een van die vernaamste ankers van ons organisasie is. Ons wil hê melkboere moet eerstehands sien wat hulle op hulle plaas kan bereik," het Fanie Ferreira, uitvoerende hoof van MPO, aan Maroela Media gesê.
'n Paar fokuspunte van hierdie kompetisie is onder andere hoe die boere omsien na hul omgewing of natuur en die grond waarop hulle boer, die beskerming van natuurlike hulpbronne, dieregesondheid en algemene bestuur van die kudde en biosekuriteit.
Betrokkenheid by die gemeenskap is belangrik, asook hul verhouding met hul werkers. Daar word ook gekyk na die kwaliteit van melk wat geproduseer word, asook die winsgewendheid van die besigheid.
In samevatting gaan dit veral oor die boerdery se volhoubaarheid. Wat word gedoen op die plaas om te verseker dat dit eendag in 'n beter toestand aan die nageslag of generasies agtergelaat word.
Garth het in Riversdal grootgeword en in 1999 aan Hoër Landbouskool Oakdale gematrikuleer. In 2000 het hy kleinsakebestuur by die Kaapse Technikon gaan studeer en in 2005 het hy besluit om werksondervinding in Engeland op te doen saam met sy vrou, Yolandi.
Daar het hulle vier jaar gewoon en gewerk. Die paartjie het drie dogters, Emma, Lisa en Emily. In 2009 het hy teruggekom plaas toe en saam met sy pa, Jack en oudste broer, Brain, begin boer.
Garth en sy familie melk tans 700 koeie, hoofsaaklik van weiding af en probeer soveel as moontlik van hul eie voer op die plaas produseer.
Die Hume-familie boer al sedert 1962 op hierdie grond vandat sy oupa, Les Hume, sy grond in Aberdeen verkoop en hom hier in Riversdal kom vestig het.
"Ek het van kleintyd af 'n liefde vir die plaas, veral vir diere. Ek dink ek het nog altyd geweet ek sou gaan boer as ek die geleentheid kry. Ek is baie dankbaar vir my ouers wat die geleentheid vir ons geskep het om te kan boer en ook vir die platform en fondasies wat deur my pa en Brian gelê is voor ek plaas toe gekom het. Ek het maklik ingepas en kon net help bou aan 'n besigheid wat reeds baie suksesvol bestuur is. Brian het reeds baie nuwe praktyke toegepas en nuwe tegnologie geïnstallee. Daarom was dit maklik vir my om net op dit te bou," sê hy.
Garth en sy familie melk tans 700 koeie.
Garth is baie bly oor die toekenning en sal graag wil sien dat dit ook ander melkboere inspireer. Hy voel dat daar baie dinge is om raak te vat op 'n melkplaas. Volgens hom speel tegnologie 'n belangrike rol en glo hy dat daar veranderings aanbring word waar dit nodig is.
Vir Garth is dit belangrik om strategies te beplan en alles in plek te kry vir moeilike tye aangesien hulle al hoe meer droë jare beleef, daarom is dit van uiterste belang om in goeie tye weer terug te ploeg in die besigheid en seker te maak dat moeilike tye oorbrug word.
Die Hume-familie is baie dankbaar teenoor al die werkers op Bakenskop. Sonder hierdie betroubare span sou dit nie moontlik wees om die besigheid suksesvol te bedryf nie.
Een van vele uitsigte oor Bakenskop.
"My boodskap aan jong boere is om hard te werk, genoeg tyd op jou plaas te spandeer en sover moontlik dinge reg te doen. Gebruik kundiges wat jou kan adviseer. Daar is dinge wat ons niks aan kan doen nie, maar fokus op dit wat ons wel kan verbeter en kyk om dit reg te doen," motiveer Garth.
Harde werk word beloon.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'