Video
STILBAAI/JONGENSFONTEIN NUUS - In skerp teenstelling met die vorige dag se reënerige en koue toestande, was Saterdag 11 Augustus 'n lieflike sonskyndag, ten spyte van 'n koelerige wind - redelik gunstige toestande vir die hengelaars tydens die jaarlikse galjoenderby.
Die derby word deur Stilbaai se rots- en kushengelklub vanjaar vir die 27ste agtereenvolgende jaar aangebied.
Volgens Raldu Potgieter, een van die organiseerders, moes hulle heelwat hengelaars wegwys omdat hulle te veel inskrywings ontvang het. "Die galjoenderby is een van die grootste gebeurtenisse jaarliks op die streek se sportkalender. Ons het 'n rekordgetal inskrywing van 456 hengelaars wat in 76 spanne deelneem, ontvang, wat dit die grootste derby in die geskiedenis van dié kompetisie maak."
Hengelaars van regoor die land het hierheen gereis. Dit is die grootste kompetisie van sy soort in die land waar alle visse en galjoene weer vrygelaat word. Die aanvanklike prysgeld wat in totaal R160 000 beloop het, het opgeskuif na R210 000.
Hoewel die galjoene aanvanklik ietwat skugter was om die aas te byt, is eindelik 127 galjoene op die dag gevang. Die eerste prys is 'n katrol ter waarde van R14 000, die tweede prys 'n visstok van R7 000 en die derde prys 'n visstok, vislyn en 'n geskenkbewys, met gesamentlike waarde van R6 000.
"Ek en my mede-organiseerders, Stephan van Huyssteen en Xander de Beer wil van die geleentheid gebruik maak om die weegmeesters, maar ook ons borge te bedank. Sonder hulle sou die geleentheid nie moontlik wees nie," het Potgieter gesê.
'n Hengelaar maak gereed vir die kompetisie.'n Bottel wyn, geborg deur Stilbaai Kelders en Zandvliet Kelders, is opgeveil vir 'n bedrag van R3 500.
Uitslae
- Grootste galjoen: Gerhard Groenewald (Witsand), 55 cm;
- Tweede grootste galjoen: John May (George), 50,5 cm;
- Derde grootste galjoen: Ruben Gouws (George), 50,2 cm;
- Swaarste sak: Abrie de Jager (Stilbaai), 2,9 kg;
- Eerste plek: Aera Powercoating;
- Tweede plek: Swellendam Super 6;
- Derde plek: Faith Fishers (George);
Kyk 'n video hieronder:
André Manning, wat tot op datum nog nie 'n galjoenderby gemis het nie, verower 'n sesde plek en eindig dus onder die top 10. 'n Jong hengelaartjie van Laerskool Bertie Barnard, Danielle Coetzee het die kleinste galjoen uitgetrek (14,4 cm). Die skool het vanjaar twee spanne ingeskryf.
Meer inligting is beskikbaar by www.stilbaaigaljoenderby.co.za
'n Totale prysgeld van R210 000 was op die spel by die jaarlikse rots- en kushengelkompetisie. Foto's: Wilma Adamson
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Jongensfontein, Hessequa nuus'