MELKHOUTFONTEIN NUUS - Seagulls-rugbyklub het Saterdag 20 Augustus in hul tuiswedstryd teen All Blacks van Oudtshoorn wraak geneem vir hul nederlaag in die eerste ronde toe hulle die besoekers met 24 - 15 getroef het.
Die rustydtelling in dié SWDRU Superliga B-wedstryd was 7 - 3 in die tuisspan se guns.
All Blacks, tans nog in die tweede plek op die punteleer, kan steeds hul koppe hoog hou ná die strawwe wedstryd. Albei spanne het hul bes geprobeer om mooi hardlooprugby aan hul getroue ondersteuners op te dis. Seagulls het drie drieë gedruk en All Blacks twee.
Seagulls, wat ook in 'n stadium die voorlopers in die liga was, het ietwat gesukkel om in die eerste helfte op dreef te kom, maar het ná rustyd na 'n hoër rat oorgeskakel. Hulle kon egter nie 'n bonuspunt insamel nie.
Vlieg soos 'n arend. Jerome Esau, Seagulls se kwiksilwer-senter, sak hier soos ‘n wafferse arend toe op ‘n All Black-speler terwyl sy spanmaat Gurtvon Kleinhans byderhand is om hom te ondersteun. Foto's: Clive Pretorius
Vir Seagulls het Jerome Esau (senter), Hyron October (flank) en Anré Vermeulen (stut) elkeen 'n drie gedruk. Reagan Riddles (losskakel) het al die drieë verdoel en een strafskop oorgeklits.
Seagulls se B-span het ook die bordjies verhang en die wedstryd met 30 - 10 gewen nadat hulle rustyd met 17 - 5 voor was.
Vir Seagulls het Tobias Swarts (regtervleuel), Hackuum Jansen (senter), Enrich Daries (flank) en Ritchie Baket (stut) 'n bonuspunt vir vier drieë verseker, terwyl Delano Jacobs (skrumskakel) met twee straf- en twee doelskoppe geslaag het.
Seagulls se linkervleuel, Jonathan Lombaard, probeer hom uit 'n verdediger se duikslag loswikkel.
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'