MELKHOUTFONTEIN NUUS - Seagulls-rugbyklub se A-span het Saterdag 21 Mei vir die derde agtereenvolgende week hul moses teëgekom toe hulle in hul wegwedstryd teen Spring Roses van Oudtshoorn met 19 - 32 verloor het.
Die rustydtelling was 14 - 12 in Seagulls se guns.
Die plaaslike span was nog tot sowat vier weke gelede die voorlopers in die SWDRU Superliga B.
Seagulls het egter hulle kanse teen Spring Roses, wat tot dusver ook nie goed in die liga gevaar het nie, verbrou.
Die sege vir die tuisspan was hul eerste na ses nederlae.
Seagulls sal meer gefokus moet wees om vinniger te kan aanpas by die omstandighede wat op die veld uitspeel.
Hulle sal alles na die naweek se loslootjie moet uithaal indien hulle hul tuiswedstryd teen Knysna United wil wen.
Vir Spring Roses het Mcaven Tiemie (skrumskakel) twee drieë en 'n strafskop aangeteken. André Goliath en sy sentermaat, Conroy Tiemie het elkeen 'n drie gedruk, met Lincoln Jafta (haker) wat die vyfde drie gedruk het. Berto Botha (heelagter) en Claude Fortuin (losskakel) het elkeen 'n doelskop bygevoeg.
Buiten Seagulls se strafdrie in die eerste helfte, het Gertwin Kleinhans (linkervleuel) en Henrico Riddles (flank) elk 'n drie gedruk. Wilhelm Sollmons (heelagter) kon net met een doelskop slaag.
In die eerste wedstryd van die dag het Seagulls se B-span met 21 - 0 geseëvier nadat hulle rustyd met 14 - 0 voorgeloop het.
Die puntemakers vir Seagulls was Jonathan Lombard (senter), André van Staden (slot) en Edmund Nomdo (haker) wat elkeen 'n drie gedruk het. Joshwin Pieterse (losskakel) het al drie drieë verdoel.
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'