STILBAAI NUUS - Op hierdie stadium van die seisoen is dit uiters belangrik vir die voorlopers om aan die wenkant te bly - en dit is presies wat Seagulls Saterdag, 25 April, reggekry het.
Die A-span het in 'n spannende kragmeting daarin geslaag om Albertinia Rangers met 21 - 20 te klop, nadat hulle rustyd reeds met 13 - 8 voorgeloop het.
Vir Seagulls het die regtervleuel Owen Pietersen, senter Jaydri van Wyngaard en die vaskopstut Micyle Morris elk 'n drie gedruk. Curnall Sollmans, linkervleuel, het met 'n strafskop en 'n skepskop bygedra tot die telling.
Albertinia Rangers se B-span het egter oortuigend met Seagulls afgereken. Nadat hulle rustyd met 14 - 12 voorgeloop het, het hulle die momentum behou en uiteindelik met 31 - 18 geseëvier.
Vir Seagulls se B-span het Angelo Saayman en Jason Lawrence elk 'n drie gedruk. Saayman het ook twee strafskoppe en 'n doelskop suksesvol oorgeskop.
Seagulls speel Saterdag, 2 Mei, tuis teen Eagle Stars van Sedgefield. Ondersteuners word aangemoedig om die span in hierdie belangrike wedstryd op die Graveyard te gaan ondersteun.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’