MELKHOUTFONTEIN NUUS - Derby's tussen twee gedugte spanne lewer nie altyd aanskoulike rugby op nie. Maar aan spanning en drama ontbreek dit nooit.
Dit was dan ook die geval met Saterdag s'n tussen Seagulls van Melkhoutfontein en Riversdal Blues, die pasaangeër, in die SWD-klubrugby se Super B-liga.
Die eindtelling van 11-7 in die Blues se guns vertel al klaar 'n verhaal. Nie een van die twee spanne het oordonder nie en tot aan die einde moes die toeskouers van beide spanne naels kou.
Seagulls-ondersteuners sal kan aanvoer verbroude skoppe pale toe het hulle dalk die wedstryd gekos. Maar die Blues het ook een of twee mis gekorrel.
Die skeidsregter het ook flink geelkaarte uitgedeel. Dit, en talle onderbrekings vir beserings, het die wedstryd sy ritme laat verloor.
Maar een ding is seker: daar loop 'n hele paar seer lywe in Melkhoutfontein en in Riversdal rond.
Dit was taai.