HEIDELBERG NUUS - Die plaaslike rugbyklub het Saterdag 25 November hul jaareindfunksie in die rugbysaal gehou.
Die klub het 'n suksesvolle seisoen beleef waartydens beide hul spanne die eindronde op Outeniquapark gewen en sodoende promosie tot die SWDRU Premierliga verseker het.
Die verrigtinge is onder meer deur die borge, Carlos en Sue Gomes-Luis, Damon Lutz en Alex Marshall, 'n bekende in atletiekkringe bygewoon.
Laasgenoemde het as gasspreker opgetree. Hy het tydens sy kort toespraak gesê dat die dorp 'n ryk rugbygeskiedenis het en dat die destydse Young Stars-rugbyklub menige bekers verower het.
Volgens Marshall, het hulle destyds vir die SWDRU silwertrofee meegeding, wat vandag gelykstaande is aan die SARU Gold Cup kompetisie vir klubs.
Hy het benadruk dat die klub na 'n tydperk van 10 jaar weer 'n bloeitydperk beleef met baie belowende spelers in hul midde.
Hy het egter gewaarsku dat die promosie ook nuwe uitdagings bied en dat dit opskerping, veral op bestuursvlak benodig.
"Die afrigters het hul reeds bewys en die spelers sal uiterste dissipline aan die dag moet lê, omdat die Premierliga veel sterker teenstand gaan bied.
"Ons het egter gekom om in dié liga te bly," het hy verseker.
Verskeie spelers is vir hul uitstaande prestasies gedurende die seisoen vereer en erkenning is aan 18 spelers gegee wat 10 jaar gelede die Presidentsligabeker verower het.
Die huidige voorsitter, Julian Buis, huidige hoofafrigter, Johan Erasmus en Smiley Roberts, huidige B-spanbestuurder was onder die elite groep.
Die spelers het 10 jaar gelede die Presidentsligabeker verower. Agter, van links:Julian Buis, Laughton Peterzen, Kosie Vaaltyn, Reagan Geldenhuys, Situkhutezi, Simon du Toit, Chris Michaels, Smiley Roberts en Johan Erasmus. Voor: Roger Williams, Denovan Riddles, Carlo Williams,Ricardo Saayman, Divan Meyer, Clive Michaels, Gleazon Pietersen en Lindon Hartnick. Hannes Pietersen was afwesig tydens die neem van die foto.
Die volgende spelers het toekennings ontvang:
- Sportman van die jaar - Royden Hendricks
- Junior sportman van die jaar - Jason Liebenberg
- Rugbyspeler van die jaar - Fernholdt Buis
- Spelers se speler van die jaar - Corbin Swartbooi
- Mees belowendste speler - Fernell Pretorius
- Beste opkomende jong speler - Marchel Marais
- A-span: Beste agterlynspeler - Anrich Manho
- Beste voorspeler - Marcelino Meyer
- Mees gevorderde speler - Simon du Toit
- B-Span: Beste agterlynspeler - Clive Michaels
- Beste voorspeler - Carlin Wewers
- Mees gevorderde speler - Branville Human
- Spelers se speler van die jaar - Reagan Geldenhuys en
- Meeste drieë vir die jaar - Gershom van Rooyen.
ARTIKEL & FOTO'S: CLIVE PRETORIUS, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'