HEIDELBERG NUUS - Heidelberg-rugbyklub het Saterdag 9 Junie vir die tweede keer hierdie seisoen tydens hul wegwedstryd in die SWDRU Premierliga die glans van Silver Stars op Rosemoor in George behoorlik verdof.
Dié keer wen hulle met 34-17, dit nadat hulle rustyd met 21-7 voorgeloop het.
Met dié vertoning het Heibi 'n duidelike boodskap aan Silver Stars gerig dat hul eerste ronde sege van 24-8 in hul eerste wedstryd van die seisoen geen gelukskoot was nie.
Heibi het eerste punte in die 11de minuut aangeteken toe Marquit September (senter) na 'n mooi breekslag gaan druk het. Pietie Uys (heelagter) het dit verdoel om 7-0 voor te loop.
Die tuisspan het na vier minute die telling gelykop gemaak met 'n drie deur Jerovan Spandiel (slot) wat deur Neillin Scott (heelagter) verdoel is.
Die besoekers het daarna knaend aanvalle vanaf hul eie doellyn geloods, maar is óf deur swak geleenthede, óf goeie verdediging verhoed om al in die eerste helfte hul bonuspuntdrie aan te teken. Hulle het twee drieë binne vier minute van mekaar gedruk, eers deur Anrich Manho (senter) en daarna deur Jason Michaels (flank) wat beide deur Uys verdoel is, aangeteken, voordat rustyd aangebreek het.
Manho het sy tweede drie in die 60ste minuut gaan druk. Uys het dit weer verdoel nadat hy ook 'n paar minute vroeër met 'n strafskop geslaag het.
Die tuisspan het volgehou om druk op hul besoekers te plaas en is hulle met twee drieë deur Johannes Olivier, stut en Ashwin Scott, plaasvervangersenter beloon.
Eersgenoemde se drie is deur Enrico Stahl, plaasvervangerlosskakel, verdoel. Die laaste punte van die wedstryd is deur die besoekers met 'n strafskop deur Uys in die laaste minuut aangeteken.
In die twee voorwedstryde van die dag het Silver Stars in beide koning gekraai met seges van 31-19 vir die C-span en 24-20 vir die B-span. In die wedstryd van die C-spanne het Heibi gou met 19-0 voorgeloop en het hul ondersteuners 'n weghol oorwinning verwag. Die tuisspan het die wedstryd gemaklik met 31-19 gewen.
In die wedstryd tussen die tweedespanne het Silver Stars hul eerste ronde nederlaag gewraak met 'n naelskraapse sege van 24-20.
Heidelberg speel Saterdag tuis teen Blanco en sal nieteenstaande hul 30-27 sege in die eerste ronde op dié vertoning wil verbeter om sodoende 'n belangrike bonuspunt in te samel om die gaping om die tweede plek op die ligatabel te verminder. Hulle beklee nog steeds die derde plek met 'n verskil van twee punte.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'