HEIDELBERG RUGBY NUUS - Die dorp se rugbyklub het Saterdag 17 Augustus hul stempel op Blanco afgedruk en hul vierde laaste Premierligawedstryd van die seisoen met 42-29 gewen.
Dié wedstryd was, in teenstelling met Heibi se teleurstellende vertoning teen Crusaders, soos 'n vars bries.
Met die naweek se vertoning het hulle nuwe lewe in hul verwagtinge om in die halfeidrondte te speel, geblaas.
Hulle het hul teenstanders ietwat onkant betrap en binne die eerste 25 minute met 26-0 voorgeloop, wat vir hulle die gesogte bonuspunt vir vier drieë verseker het. Hulle het nog 'n strafskop bygevoeg terwyl Blanco 'n enkele drie gedruk het om die rustydtelling op 29-5 te staan te bring.
Heibi het nog 'n drie en twee strafskoppe in die tweede helfte bygevoeg. Blanco het in dié helfte beter gevaar en vier drieë ingeryg om ook 'n bonuspunt te verdien.
Vir Heibi het Marcelino Meyer twee keer gaan druk. Corbin Swartbooi, Fernell Buis en Francois Pieters het ook elkeen een drie gedruk.
Swartbooi het met drie straf- en vier doelskoppe geslaag.
Heibi se derde span het naelskraap met 13-7 gewen na hulle rustyd met 7-3 agter was. Heibi se puntemakers was Reginald Salmon met een drie en Dimitri Stevens met twee strafskoppe en een doelskop.
Heidelberg se tweede span het hul wedstryd gemaklik met 36-10 gewen na hulle rustyd met 10-3 voorgeloop het. Hulle het ses drieë ingeryg waarvan Petrus Japtha twee gedruk het. Carlo Williams, Daylin Manho, Roger William, die kaptein, en Duane Du Plessis het elk 'n drie gaan druk. Manho het met drie doelskoppe geslaag.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'