HEIDELBERG NUUS - In 'n opwindende wedstryd Saterdag 28 April tussen die plaaslike en Groot-Brakrivier se eerste spanne op Heidelberg se tuisveld, is dit laasgenoemde wat net-net met 22-20 as oorwinnaars van die veld afdraf.
Die tuisspan het rustyd gerieflik met 19-10 in dié SWDR Premierligawedstryd voorgeloop.
Heibi het vanaf die afskop verwoed aangeval en die besoekers behoorlik aan flarde geskeur met hul vlugvoetige agterspelers, wat die bal met oorgawe lug gegee het.
Die besoekers het egter na rustyd met mening teruggekom en het hulle groot druk op hul opponente geplaas, wat ietwat van 'n insinking ondergaan het.
Hulle het nogtans karakter getoon deur soos tiere te verdedig om te keer dat Groot-Brak nie meer punte aanteken nie.
Met slegs twee minute speeltyd oor loop die besoekers met 20-19 voor, maar staan 'n strafskop af. Die tuis ondersteuners het asem opgehou toe Pieter Uys, plaasvervanger linkervleuel in sy eerste wedstryd vir die eerstespan vir dié lang skuins skop aanlê pale toe. Die toeskouers het uitbundig gejuig toe die bal sierlik deur die pale trek, wat aan die vlagskip hul oorwinning besorg.
Heidelberg se linkervleuel, Francois Pieterse, gaan in die hoek oor vir sy pragdrie. Foto: Heinrich Fortuin, korrespondent
Puntemakers
- Drieë: Francois Pieters (linkervleuel), Marcel Marais (skrumskakel) en Simon du Toit (slot).
- Doelskoppe: Corbin Swartbooi (heelagter, x2).
- Strafdoel: Swartbooi en Uys.
- Groot-Brakrivier se puntemakers was teen spertyd nie beskikbaar nie.
- Heidelberg se derdespan wen met 12-0 nadat hulle met 3-0 rustyd voor was.
- Uys (heelagter) het al die punte met vier strafskoppe aangeteken.
Die tweedespan wen met 27-8 nadat hulle rustyd met 8-3 gedraai het. Puntemakers is Roger Williams (flank), Carlin Weavers (agsteman), Denovan Riddles (losskakel) en Reagan Geldenhuys (slot) wat elk 'n drie druk. Carlo Williams (regtervleuel) verdoel twee drieë en slaag met een strafskop.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'