HEIDELBERG NUUS - Die hoogaange-skrewe Evergreens-rugbyklub van Pacaltsdorp het Saterdag 12 Mei in 'n wegwedstryd in die SWDRU Premierliga behoorlik op hul neuse gekyk met hul neerlaag van 27-17 teen Heidelberg.
Dié voormalige SWD-kampioene het rustyd met 17-14 voorgeloop. Die wedstryd was sekerlik Heibi se beste tot dusver in dié elite liga en is alle aanduidings daar dat hulle met elke wedstryd verbeter - tot groot kommer onder hul meer ervare opponente.
Die tuisspan het vir die eerste keer in hul geskiedenis met 'n blaasorkes op die paviljoen gespog, wat die dag 'n feestelike atmosfeer gegee het.
Onder die groot hoeveelheid ondersteuners was Maurice Paige, plaaslike akteur van Isidingo en Suidooster-faam, asook Grant Riddles, Hessequa-burgemeester en oudskeidsregter wat in sy Heibi T-hemp gepronk het.
Die spanne het verwoed aanvalle geloods om die oorhand te kry, maar sterk verdediging aan beide kante het verhoed dat enige munt daaruit geslaan kon word in die eerste 10 minute.
Die tuisspan het eerste punte afgestaan toe Leegan Moos met 'n strafskop in die 11de minuut geslaag het. Buran Parks (kaptein) het binne twee minute met 'n drie gevolg, deur Moos verdoel na oordeelsfoute van die tuisspan.
Heibi het hul eerste punte na 20 minute aangeteken toe Corbin Swartbooi deur 'n gaping geglip en gaan druk het.
Kort daarna het Fernholdt Buis in die linkerkantse hoek vir die tuisspan oorgegaan. Jason Liebenberg het beide drieë verdoel, om vir die eerste keer die voortou te neem.
Die besoekers het egter net voor rustyd weer druk op Heibi se doellyn geplaas en het Anvor Prins en Moos hul span die voortou laat neem met 'n drie wat verdoel word.
Na rustyd het Heibi met hernude vuur teruggekeer en in die agste minuut slaag Liebenberg met 'n strafskop om die telling 17 elk te maak.
Die beste drie van die dag het gekom toe Gershom van Rooyen die bal na 'n dwarsskop hoog bokant sy kop vang en onder die pale gaan druk. Swartbooi het die drie verdoel. Met vier minute speeltyd oor dwing hulle 'n strafskop net binne hul opponente se halfgebied af, wat Pieter Uys sekuur tussen die pale deurstuur.
Heidelberg beklee tans derde plek op die ligatabel, met nog twee wedstryde oor in die eerste ronde.
• In die eerste wedstryd van die dag het Evergreens se derdespan net-net met 20-19 gewen nadat hulle rustyd met 10-7 voorgeloop het.
Heidelberg se tweedespan het die bordjies verhang en naelskraap met 18-15 gewen, nadat hulle rustyd met 10-5 voor was.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'