HEIDELBERG NUUSFLITS - Evergreens-rugbyklub van Pacaltsdorp het Saterdag 12 Mei in ’n wegwedstryd in die SWDRU Premierliga behoorlik op hul neuse gekyk met hul neerlaag van 27-17 teen Heidelberg.
Dié voormalige SWD-kampioene het rustyd met 17-14 voorgeloop. Die tuisspan het vir die eerste keer in hul geskiedenis met ’n blaasorkes op die paviljoen gespog, wat die dag ’n feestelike atmosfeer gegee het.
Onder die groot hoeveelheid ondersteuners was Maurice Paige, plaaslike akteur van Isidingo en Suidooster-faam, asook Grant Riddles, Hessequa-burgemeester en oud-skeidsregter wat in sy Heibi t-hemp gepronk het.
Heidelberg beklee tans derde plek op die ligatabel, met nog twee wedstryde oor in die eerste rondte.
In die eerste wedstryd van die dag het Evergreens se derdespan net-net met 20-19 gewen nadat hulle rustyd met 10-7 voorgeloop het.
Heidelberg se tweedespan het die bordjies verhang en naelskraap met 18-15 gewen, nadat hulle rustyd met 10-5 voor was.
• Lees meer in Suid-Kaap Forum, asook aanlyn.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'